Nuus 18:00
BULLETIN 24 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU sê Puleng Dimpane se aanstelling sal vertroue in die polisiediens herstel
# Matipandile Sotheni se borgtogaansoek in die moordsaak op ‘Getuie D’ word uitgestel tot Mei
# En motorsport: President Cyril Ramaphosa gaan minister Gayton McKenzie na ‘n F1-wedren vergesel om Suid-Afrika se gasheerbod te versterk
# Die polisie-vakbond POPCRU sê Puleng Dimpane se aanstelling as waarnemende nasionale kommissaris is ‘n tydige stap om leierskap te bestendig en vertroue te herstel. Dit volg na Fannie Masemola se skorsing, hangende strafregtelike aanklagte in verband met ʼn gesondheidsorg-tender waarby die berugte tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala betrek word. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê hulle sal saam met Dimpane werk om ʼn professionele, aanspreeklike Polisiediens te vestig wat op gemeenskappe fokus:
# Die borgtogaansoek van die moordbeskuldigde voormalige lid van die polisie se Spesiale Taakmag, Matipandile Sotheni, is in Brakpan se Landdroshof uitgestel tot 18 Mei. Hy staan tereg vir die moord op die verklikker Marius van der Merwe, ook bekend as “Getuie D” voor die Madlanga-kommissie. Die polisie beweer dat Sotheni die vuurwapen hanteer het in ‘n verbyry-skietery in Desember verlede jaar. Hy staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade, sameswering tot moord, poging tot moord en die onwettige besit van ammunisie.
# Die Boksburgse Landdroshof in Gauteng het tot Dinsdag uitspraak voorbehou in die borgtogaansoek van die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die metro se stadsbestuurder, Kagiso Lerutla. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling wat verband hou met ‘n saak in 2019 wat beweerde nabootsing in die hof behels. Die staat het borgtog teengestaan en die gevaar van inmenging met getuies aangehaal, terwyl die verdediging aangevoer het dat die bewerings ongegrond is. Die twee bly in aanhouding tot die uitspraak.
# Motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê president Cyril Ramaphosa sal hom vanjaar na ‘n Formule Een Grand Prix vergesel terwyl Suid-Afrika werk om F1 vir die eerste keer in meer as 30 jaar na Afrika terug te bring. Die Kyalami-renbaan is die gunsteling om ‘n wedren aan te bied met Kaapstad wat ook belangstel. McKenzie sê hulle werk aan ‘n voorlegging wat F1 nie sal kan weier nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-087-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-710-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-48-sent per vat.
# En laastens, die vervaardiger van die uiters gewilde Chuckles-sjokolade-moutballetjies, Beyers Chocolate, is in likwidasie geplaas na ‘n twis met Woolworths wat ‘n einde gebring het aan ‘n sakeverhouding van meer as 30 jaar. Dit het ontstaan toe Beyers ‘n tweede fabriek bekom het om sjokolade aan winkels soos Checkers en Pick n Pay te lewer. Woolworths het dit as ‘n vertrouensbreuk bestempel en sy bestellings besnoei, wat Beyers se inkomste met sowat 200-miljoen-rand laat daal het. Beyers sê hy is bereid om weer met moontlike kopers te skakel onder geskikte voorwaardes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….