Nuus 18:00
BULLETIN 22 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Standard Bank sê die rentekoers-vooruitsig is afhanklik van oliepryse en geopolitieke spanning
# SADOU veroordeel die doodmaak van Palestynse skoolkinders in Gaza
# En, Iran lê beslag op skepe in die Straat van Hormoes nadat Trump aanvalle staak
# Standard Bank sê Suid-Afrika se rentekoers-vooruitsig hang hoofsaaklik af van globale oliepryse en voortslepende geopolitieke spanning, veral die konflik in Irak. Die ekonoom Elna Moolman sê hoewel inflasie in Maart effens gestyg het tot 3,1-persent, bly dit naby die Suid-Afrikaanse Reserwebank se nuwe teikenkoers van drie-persent. Moolman sê as spanning afneem, kan die rentekoers dalk later verlaag word:
# Die onderwysersvakbond SADOU veroordeel die doodmaak en ingevaarstelling van Palestynse skoolkinders in die besette Wesoewer, insluitend ‘n 14-jarige wat gister in al-Mughayyir doodgeskiet is. Woordvoerder Nomusa Cembi kritiseer ook die gebruik van traanrook teen kinders in Umm al-Khair. Sy vra dat skole beskerm moet word as veilige ruimtes, en vir onafhanklike ondersoeke en toerekenbaarheid:
# Iran het op twee skepe in die Straat van Hormoes beslag gelê en sy greep op die strategiese waterweg versterk, nadat die Amerikaanse president Donald Trump aanvalle onbepaald afgelas terwyl daar geen teken is van ‘n hervatting van vredesgesprekke nie. Die Tasnim-nuusagentskap in Iran berig die Rewolusionêre Wagte het op twee skepe vir maritieme oortredings beslag gelê en hulle na Iranse kus begelei. Dit is die eerste keer dat Iran op skepe beslag lê sedert die begin van die oorlog. Die VSA het Saterdag op ‘n Iranse vragskip beslag gelê en gister aan boord gegaan van ‘n groot Iranse olietenkskip in die Indiese Oseaan.
# Sokker: Die voormalige Premierliga-kampioen, Leicester City, gaan volgende seisoen slegs die tweede keer in sy 142-jarige bestaan in Engeland se derde vlak speel. Die Foxes is na die eersteliga afgradeer na ‘n gelykopuitslag teen Hull City, tien jaar nadat hulle die titel in 2016 gewen het. Die klub is in Februarie ses strafpunte gegee vir oortreding van finansiële regulasies. Bestuurder Gary Rowett sê lesse sal hieruit geleer moet word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-916-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-739-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-84-sent per vat.
# En laastens, wetenskaplikes aan die Universiteit van die Witwatersrand het Suid-Afrika se eerste luggehalte-waarskuwings-toepassing ontwikkel om Johannesburg se inwoners te waarsku teen stygende besoedelingsvlakke. Die toepassing gebruik data van honderde waarnemingstasies om onmiddellike waarskuwings en gesondheidsraad aan inwoners te stuur. Die ontwikkeling volg op berigte van verhoogde asemhalingsprobleme en ‘n sterk swaelreuk, met owerhede wat besoedelingsbronne van nywerhede en mynboubedrywighede ondersoek. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê swaeluitstralings word ondersoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….