Nuus 18:00
BULLETIN 1 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement verseker die publiek van bestendige medisynevoorraad
# Die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan verloor sy aansoek in die Arbeidshof
# En, Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle eis lewens in Kiëf
# Die Departement van Gesondheid sê medisynevoorrade in die openbare gesondheidsektor bly bestendig, ondanks kommer oor tekorte en veranderings in die voorkoms of verpakking. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê pasiënte kan medisyne van verskeie goedgekeurde vervaardigers ontvang, maar die produkte bevat dieselfde aktiewe bestanddele en bied dieselfde voordele. Mohale voeg by tydelike tekorte aan sekere handelsmerke of verpakkingsgroottes word hanteer deur geskikte plaasvervangers aan verbruikers beskikbaar te stel:
# Die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, het nog ‘n terugslag beleef nadat sy dringende aansoek by die Arbeidshof van die rol geskrap is. Khan het deur die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie versoek om die voorsitter van sy dissiplinêre proses te verwyder. Die hof het bevind die aansoek het nie regsbevoegdheid of dringendheid nie en het POPCRU gelas om die koste te betaal. Die jongste uitspraak kom terwyl Khan ‘n voortdurende dissiplinêre proses ondergaan wat tot sy uiteindelike ontslag uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan lei.
# Die vakbondfederasie COSATU vra vinnige optrede deur die regering, die bedryf, arbeid en verbruikers om plaaslike werksgeleenthede en waardekettings in die suikerbedryf te beskerm. Suid-Afrika se suikerbedryf het nagenoeg 1,5-miljard-rand verloor weens gesubsidieerde suikerinvoere. Matthew Parks van COSATU sê die vakverbond verwelkom die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging en die Internasionale Handelsadministrasiekommissie se afkondiging van tariefverligting vir die suikersektor, ingevolge waarvan invoerbelasting van vier-rand-83-sent tot ses-rand-97-sent per kilogram sal styg:
# Ses spoorwegwerkers is onder minstens twaalf mense wat dood is in Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle op Oekraïne se hoofstad Kiëf en omliggende gebiede. Amptenare sê ‘n ballistiese missiel het oornag ‘n spoorwegdepot getref en sewe mense is dood. ‘n Werkswinkel is ook vernietig en verskeie brande het uitgebreek. Vier ander mense is dood, insluitend ‘n Indiese burger. Oekraïne sê die oornag-aanval het ballistiese missiele en groot getalle hommeltuie ingesluit. Dit was die sesde agtereenvolgende nag van Russiese aanvalle op Kiëf.
# Krieket: ‘n Splinternuwe Pakistanse groep gaan van volgende Woensdag teen Engeland speel in die laaste toets op Edgbaston. Hoofafrigter Sarfaraz Ahmed en boul-afrigter Umar Gul is afgedank en sewe spelers huis toe gestuur na die besoekers se swak vertoning in die eerste twee wedstryde. Pakistan het op Headingly die spit afgebyt met ‘n beurt en 103 lopies, en op Lord’s met 194 lopies verloor, en word beskryf as die land se swakste ooit. Mike Hesson van Nieu-Seeland gaan by Ahmed oorneem en Ashley Noffe van Australië by Gul.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-254-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-366-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….