Nuus 18:00
BULLETIN 20 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC fokus op bekwame leiers in plaas van persoonlikhede in sy verkiesingsveldtog
# Cosatu verwelkom Ramaphosa se pogings om bilaterale betrekkinge met Spanje te verbeter
# En, ‘n onderwysaktivis moedig Suid-Afrikaners aan om kommentaar te lewer oor die konsep-geskiedenisleerplan
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party fokus op die kies van bekwame en etiese burgemeesters as deel van sy verkiesingsveldtog vir plaaslike regerings, eerder as persoonlikhede. Mbalula het die media ingelig oor die party se plaaslike regeringsaksieplan en gesê ‘n streng keuringsproses is aan die gang vir burgemeesterskandidate, insluitend onderhoude, keuring en assesserings van leierskap- en regeringservaring. Hy sê die ANC werk daaraan om koalisieregerings in metro’s soos Johannesburg te bestendig:
# # Die vakverbond Cosatu verwelkom Cyril Ramaphosa se onlangse besoek aan Spanje en sy fokus op die bevordering van handels- en beleggingsverhoudings. Bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Spanje het van 2024 tot 2025 met 8,3-persent toegeneem. Die afgelope dekade het meer as 150 Spaanse maatskappye in die land belê en meer as 20-duisend werksgeleenthede geskep. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê terwyl die wêreld geopolitieke, handels- en ekonomiese probleme ondervind, raak die uitbreiding van handels- en beleggingsgeleenthede met lande al meer belangrik:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, moedig Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die openbare kommentaar oor die konsep-geskiedenisleerplan en assessering-beleidsverklarings vir graad 4 tot 12. Die minister van Basiese Onderwys oorweeg ‘n verskuiwing van ʼn Eurosentriese na ʼn meer Afrosentriese benadering met groter klem op Afrika-koninkryke, mondelinge geskiedenis en bevrydingsbewegings. Die openbarekommentaar-proses is met 30 dae verleng tot 19 Mei. Makaneta sê die verlengde periode sal landsburgers toelaat om betekenisvolle bydraes te lewer:
# Rugby: Die Stormers sal alles moet uithaal om ‘n tuis-kwarteindstryd in die United Rugbykampioenskap te verseker nadat hulle Saterdag onverwags tuis teen Connacht verloor het. Die Kaapse span is steeds tweede op die punteleer met drie groepwedstryde oor, drie punte agter Glasgow Warriors, maar sewe spanne hou ‘n bedreiging in – Leinster, die Leeus, Ulster, Munster, Cardiff, die Bulle en Connacht. Die Stormers pak Glasgow volgende op hulle tuisveld, gevolg deur wegwedstryde teen Ulster in Ierland en Cardiff in Wallis voor die uitspeelwedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-676-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-823-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, die legendariese Suid-Afrikaanse aktrise en die eerste Mej. Swart Suid-Afrika, Cynthia Shange, is op 76 in ‘n KwaZulu-Natalse hospitaal dood. Haar dogter, Nonhle Thema, het haar heengaan bevestig. Shange het in 1972 in Londen geskiedenis gemaak as die eerste swart vrou om Suid-Afrika op die Mej. Wêreld-kompetisie te verteenwoordig. Shange word onthou vir haar baanbrekersloopbaan in kuns en kultuur tydens apartheid, en het in 1975 die hoofrol in Suid-Afrika se eerste swart rolprent, Udeliwe, vertolk. Sy was ook in klassieke reekse soos Shaka Zulu en Muvhango.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….