Nuus 18:00
BULLETIN 15 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê Roelf Meyer se aanstelling is gebaseer op meriete en nie politiek nie
# Julius Malema belowe niks sal die EFF-rewolusie ontwrig nie ondanks sy vonnisoplegging
# En, Oekraïne herwin bykans 50 vierkante kilometer grondgebied terug van Rusland
# President Cyril Ramaphosa het Roelf Meyer se aanstelling as nuwe ambassadeur in die VSA verdedig en sê hy is goed gekwalifiseer om die verhoudinge tussen die twee lande te help herstel. Ramaphosa sê Meyer se ervaring in konflikoplossing en voortgesette interaksie met Amerikaanse amptenare maak hom geskik, en daar word van hom verwag om regeringsbeleid neutraal te verteenwoordig. Hy vertrou Meyer se geloofsbriewe sal deur die Amerikaanse leierskap aanvaar word:
Business Leadership South Africa het intussen Roelf Meyer se aanstelling verwelkom. Die sake-organisasie glo sy ervaring in onderhandeling en nasiebou laat hom toe om betrekkinge goed te bestuur met Washington, wat ‘n belangrike handels- en beleggingsvennoot is. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê sterk bande met Amerika bly noodsaaklik vir ekonomiese groei, met honderde Amerikaanse ondernemings wat plaaslik in bedryf is:
# EFF-leier Julius Malema sê sy party sal voortgaan ongeag die uitkoms van sy vonnisoplegging in die Oos-Londense Landdroshof in KuGompo City in die Oos-Kaap. Dit volg op sy voorvonnis-verrigtinge nadat hy skuldig bevind is aan oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer. Vonnisoplegging word môreoggend verwag. Malema, wat deur familielede ondersteun is, het AfriForum beskuldig dat hulle hom teiken en gesê die EFF bly verenig en verbind tot sy doelwit:
# Die hoof van die Weermag van die Oekraïne, Oleksandr Syrskyi, sê hulle het verlede maand bykans 50 vierkante kilometer van hul grondgebied van Rusland herwin en voortgebou op hulle sukses sedert die begin van die jaar. Hy sê Moskou se magte het met die verandering in weerstoestande hul aanvalle oor bykans die hele frontlinie van een-duisend-200-kilometer verskerp. Syrskyi sê die gebied rondom die beleërde oostelike stad Pokrovsk, wat Rusland al sedert middel 2024 probeer verower, het in Maart van die ergste gevegte gesien.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, ontken gerugte van tweedrag met afrigter Brendon McCullum en sê hulle het ‘n gedeelde visie vir die span. Hulle verhouding is onder die vergrootglas geplaas na Engeland se nederlaag van 4-1 in die stryd om die As in Australië. Hulle kontrakte strek tot volgende jaar wanneer die volgende As en die Wêreldbekertoernooi voorlê. Stokes is vol vertroue in hul vermoë om saam te werk en hoewel hulle somtyds verskil, streef hulle albei daarna om so suksesvol as moontlik te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-016-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-825-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….