Nuus 18:00
BULLETIN 10 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die Kusile-kragstasie lei ‘n nuwe era in vir Suid-Afrika se energie-herstelprogram
# Paul Mashatile beklemtoon ondersteuning ná die oorhandiging van titelaktes
# En, die Johannesburgse Metropolisie fnuik ‘n gesteelde voertuigsmokkel-operasie
# President Cyril Ramaphosa prys die voltooiing van die Kusile-kragstasie as ‘n belangrike mylpaal in Suid-Afrika se energie-herstelprogram. Hy het tydens ‘n besoek aan die aanleg in Mpumalanga gesê Eskom se vordering het energie-sekerheid versterk, met Kusile wat nou ten volle in bedryf is en ongeveer vier-duisend-800 megawatt toevoeg tot die nasionale netwerk. Ramaphosa sê Eskom se verbeterde prestasie het gehelp om beurtkrag te verminder en ekonomiese vertroue te herstel:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die belangrikheid van doeltreffende bestuur van gemeenskaplike eiendom beklemtoon, tydens die oorhandiging van titelaktes aan begunstigdes in Thabazimbi, Limpopo. Hy sê dit is die sleutel tot die beskerming van grond wat teruggegee is en verseker langtermynvoordele vir huidige en toekomstige geslagte. Mashatile het beklemtoon die regering sal gemeenskappe ondersteun om die grond produktief te ontwikkel en te gebruik. Hy het begunstigdes aangespoor om op volhoubare landbou-ontwikkeling te fokus:
# Die Johannesburgse Metropolisie het ‘n gesteelde voertuig in Florida onderskep tydens ‘n operasie teen oorgrens-misdaad. Beamptes het op inligting gereageer om die motor af te trek wat in Krugersdorp as gesteel aangemeld is. ‘n Pakistanse burger wat op die toneel in hegtenis geneem is, word verbind met ‘n oorgrens-voertuigsmokkelsindikaat. Die metropolisie se woordvoerder, Xolani Fihla, sê die voertuig was vir Zimbabwe bestem:
# Die inflasiekoers in Amerika het verlede maand tot sy hoogste vlak in byna twee jaar gestyg, namate hoër oliepryse weens die VSA-Israel-oorlog in Iran, na die breër ekonomie begin oorspoel het. Volgens die Amerikaanse Departement van Arbeid het verbruikerspryse met 3,3-persent oor die 12 maande tot Maart gestyg, teenoor 2,4-persent in Februarie. Dit is een van die grootste maandelikse veranderinge sedert 2022, toe Rusland se inval in Oekraïne tot ‘n energieskok gelei het. Verlede maand se toename het gekom nadat die sluiting van die Straat van Hormoes oliepryse die hoogte laat inskiet het.
# Padwedlope: Die DA in die Wes-Kaap sê die ikoniese Twee Oseane-marathon spog met die heel beste wat die provinsie kan bied, van sy asemrowende natuurskoon tot sy lewendige gemeenskappe en geleentheidsbestuur van wêreldgehalte. Altesaam meer as 30-duisend deelnemers durf môre die uitdagende ultra-marathon aan, of Sondag se half-marathon. DA-woordvoerder Benedicta van Minnen sê die roete, insluitend die indrukwekkende Chapmanspiek-rylaan, bied aan deelnemers weergalose tonele van die kuslyn en natuurskoon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-509-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-775-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….