Nuus 18:00
BULLETIN 8 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sean Bolhuis van die Tshwane Metropolisie bevestig daar is geen amptelike beleid vir klaring nie
# Bongani Mncwango sluit aan by die IVP na sy vertrek uit die MK-party
# En, die Grensbestuursowerheid se Paasfees-grensoperasies is voltooi, met monitering wat voortduur
# Die adjunkhoof van die Tshwane Metropolisie, Sean Bolhuis, het bevestig dat daar tans geen formele beleid is wat klaringsertifikate van beamptes vereis nie. Bolhuis het voor die Madlanga-kommissie getuig en gesê hoewel keuring nog nie verpligtend is nie, word dit sterk aangemoedig, veral vir senior amptenare wat sensitiewe inligting hanteer. Bolhuis het beklemtoon dat volledige keuring, insluitend lewenstyl- en finansiële kontroles, van kritieke belang is vir aanspreeklikheid. Hy het kommer uitgespreek dat sommige senior amptenare weier om keuring te ondergaan:
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Bongani Mncwango, het by die Inkatha Vryheidsparty aangesluit nadat hy verlede maand deur MK verwyder is. Mncwango, wat die president van die Afrika Mayibuye Movement, Floyd Shivambu, in Augustus 2025 vervang het, is afgedank na minder as ‘n jaar se diens, te midde van ‘n leierskapskommeling waartydens Sibonelo Nomvalo die rol oorgeneem het. Mncwango se besluit dui op nog ‘n verskuiwing in Suid-Afrika se ontwikkelende politieke landskap voor die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar.
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê die tien dae lange Paasfees-grensoperasies sal môre amptelik afsluit en ‘n volledige verslag word oor die naweek verwag. Masiapato beklemtoon grensbestuur bly ‘n voltydse werk, en duur ná die operasie steeds voort. Terwyl die afsluitingsfase begin, sal lesse wat as deel van die operasie geleer is, ingesluit word om grensveiligheid te versterk, insluitend voortgesette verhoogde monitering met hommeltuie, liggaamskameras en reaksiespanne:
# Oliepryse het wêreldwyd skerp gedaal en aandelemarkte skerp gestyg nadat die VSA en Iran op ’n voorwaardelike skietstilstand van twee weke ooreengekom het. Dit sluit die heropening van die belangrike Straat van Hormoes in. Die prys van Brent-ruolie, die internasionale maatstaf, het met ongeveer 13-persent gedaal tot 94-dollar-80 sent per vat, maar bly hoër as toe die konflik op 28 Februarie begin het. Aandelemarkte in Europa het hoër geopen na skerp stygings in Asië. Londen se FTSE 100-aandele-indeks het met 2,53-persent gestyg in openingshandel. In Frankryk het die Cac met vier-persent gestyg, terwyl Duitsland se Dazx met byna vyf-persent gestyg het.
# Rugby: Die All Blacks Will Jordan en Codie Taylor is beseer en sal die volgende deel van die Crusaders se Superrugby-seisoen misloop, wat die hoofafrigter, Rob Penney, as geweldig belangrik beskryf. Die twee sal vir ‘n onbepaalde tyd buite aksie wees. Taylor het vier drieë gedruk tydens die 13-malige kampioen se 69-26 oorwinning oor Fijian Drua verlede week. Die vyfde geplaaste Crusaders speel Saterdag teen die sesde geplaaste Reds, volgende naweek teen die Force en op die 24ste teen die Waratahs.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-192-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-763-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….