Nuus 18:00
BULLETIN 31 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, beskryf luitenant-kolonel Deena Govender se transaksie van drie-honderd-duisend-rand as onsinnig
# Eskom se groep-finansiële hoof, Calib Cassim, tree in 2027 af
# En, Span SA word op 2027 se Spesiale Olimpiese Wêreldspele verteenwoordig deur 65 atlete
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, het die KwaZulu-Natalse Valke-offisier, luitenant-kolonel Deena Govender, ondervra oor ‘n kontanttransaksie van 300-duisend-rand waarby rekenmeester Kassie Shamal betrokke was. Madlanga het gevra waarom die geld deur verskillende partye oorgeplaas is in plaas daarvan om direk in ‘n bankrekening gedeponeer te word. Govender het gesê Shamal, ‘n familievriend, het hom met ‘n eiendomstransaksie bygestaan. Madlanga het die verduideliking as onsinnig beskryf en gesê daar is meer aan die transaksie:
Intussen het die getuienisleier van die Madlanga-kommissie, Matthew Chaskalson, Deenadayalan “Deena” Govender, beampte van die Valke in KwaZulu-Natal, ondervra oor kontanttransaksies waarby rekenmeester Kassie Shamal betrokke is. Chaskalson het bevraagteken waarom Govender na bewering sowat 300-duisend-rand aan Shamal oorhandig het, voordat ‘n derdeparty-kliënt die geld in Govender se bankrekening oorgeplaas het. Chaskalson het aan die Kommissie gesê die omstandighede rondom die transaksie wek kommer oor moontlike onwettige beweging van fondse:
# Eskom se groep-finansiële hoof, Calib Cassim, sal in die 2027-boekjaar aftree nadat hy 24 jaar vir die kragvoorsiener gewerk het. Cassim het ook ‘n jaar as waarnemende groep- uitvoerende hoof van Eskom gedien. Die kragvoorsiener se raad het reeds begin met die proses om ‘n opvolger aan te wys om ‘n gladde oorgang te verseker. Eskom beoog om die nuwe groep- finansiële hoof voor einde 2026 aan te stel en het Cassim bedank vir sy bydrae.
# Giorgia Meloni is op die punt om Italië se langsdienende eerste minister te word sedert die Tweede Wêreldoorlog, wat ‘n ongewone tydperk van politieke bestendigheid aandui. Haar regering is byna vier jaar in beheer in ‘n land wat bekend is vir gereelde omwentelings . Meloni het voordeel getrek uit ‘n gedissiplineerde koalisie en dalende werkloosheid, terwyl beleggers haar fokus op fiskale bestendigheid verwelkom het. Ontleders waarsku egter die prestasie kan van korte duur wees. Haar regering staar kritiek in die gesig oor stadige groei en hervormings wat tot stilstand gekom het, terwyl ‘n opkomende regse party haar posisie voor die verkiesing van 2027 moeilik kan maak.
# Spesiale Olimpiese Spele: Vyf-en-sestig atlete sal Suid-Afrika op volgende jaar se Spesiale Olimpiese Wêreldspele in Santiago, Chili verteenwoordig. Die span is na die naweek se Nasionale Somerspele in Rustenburg, Noordwes, aangewys waaraan 800 atlete deelgeneem het. Span SA het 49 medaljes by die 2023 se Wêreldsomerspele in Berlyn ingepalm. Die adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Gestremdes, Mmapaseka Letsike, sê die span sal Suid-Afrika met trots verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-902-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-420-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….