Nuus 18:00
BULLETIN 12 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom uitspraak oor openbaarmaking van die ANC se kaderontplooiing-rekords.
# Die Amerikaanse minister van Verdediging is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal
# En Krieket: Suid-Afrika se tweede toets teen die Black Caps begin om middernag
# Die DA het tevredenheid uitgespreek met die Konstitusionele Hof se uitspraak in hul guns, rakende die openbaarmaking van die ANC se kaderontplooiing-rekords. Die hof het die ANC beveel om sy volledige kaderontplooiing-rekords, insluitend vergaderingsnotules, CV’s, e-posboodskappe en WhatsApps bekend te maak, terugwerkend tot 1 Januarie 2013. Die DA se nasionale woordvoerder oor die Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, sê die ANC het vyf werksdae om alle relevante dokumente te oorhandig:
# Eskom het ‘n daaglikse rotering tussen fase drie- en vier-beurtkrag aangekondig tot verdere kennisgewing. Hierdie patroon het ten doel om aandag te skenk aan die voortdurende uitdagings, en om bestendigheid in die kragnetwerk te herstel. Die nutsdiens het opwekkingseenhede herstel, wat ‘n tydelike blaaskans moontlik maak met fase drie-beurtkrag van 5-uur soggens tot 4-uur middae, gevolg deur fase vier elke dag. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, vra die publiek om aktief by te dra tot kragbesparing in hierdie uitdagende tye:
# ’n FlySafair-vlug van Kaapstad na Gauteng is vanoggend na Bloemfontein herlei nadat ’n passasier siek geword het. Die vliegtuig het vroeg vanoggend na die Lanseria-lughawe vertrek met 184 passasiers aan boord. Die woordvoerder, Kirby Gordon, sê ‘n man het siek geword en die bemanning het besef hy benodig dringend gespesialiseerde sorg. Daar was geen dokters aan boord nie en die vlieëniers het toestemming gekry om kort voor nege in Bloemfontein te land. Die man is na die hospitaal vervoer en die vlug is sowat ‘n uur later hervat.
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Lloyd Austin, is volgens berigte in ‘n bedenklike toestand in ‘n hospitaal in Maryland met ‘n nood-blaasprobleem. Dit volg nadat hy gekritiseer is omdat hy nie sy prostaatkanker-diagnose en hospitaalverblyf in Desember en verlede maand bekend gemaak het nie. BBC News berig die 70-jarige Austin het sy funksies en pligte aan sy adjunk, Kathleen Hicks, oorgedra voor hy hospitaal toe geneem is. Hy het president Joe Biden vroeër om verskoning gevra omdat hy nie die nuus van sy kankerdiagnose reg hanteer het nie.
# Krieket: Plaaslike ondersteuners sal môre ‘n baie lang dag by die kantoor hê as hulle vanaand om middernag die begin wil sien van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland, in Hamilton. Die onervare Proteas is in die eerste toets in Mount Maunganui totaal oorheers toe die Black Caps hulle met 281 lopies geklop het. Intussen sal die nuweling, William O’Rourke, na verwagting as vierde snelbouler in Nieu-Seeland se span ingesluit sal word, eerder as die Suid-Afrikaans-gebore Neil Wagner.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-186-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………