Nuus 18:00
BULLETIN 23 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eugene de Kock ontken betrokkenheid by die Cradock Vier
# AfriForum wen die hofgeding oor toegang tot Eskom se steenkoolkontrakte
# En, Fannie Nkosi beweer Shadrack Sibiya het opdrag gegee dat hy as tussenganger met Vusimuzi Matlala moet optree
# Die voormalige bevelvoerder van Vlakplaas, Eugene de Kock het bewerings wat hom met die Cradock Vier-moorde verbind, gedurende getuienis in die Hooggeregshof in Gqeberha, ontken. Die moorde op Sicelo Mhlauli, Matthew Goniwe, Fort Calata en Sparrow Mkhonto in 1985 na ‘n vergadering in die stad, word ondersoek. Hy is destyds tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir misdade uit die apartheid-era en is op parool nadat hy 20 jaar uitgedien het. Tydens kruisondervraging deur sy prokureur Juan Schoeman het die 77-jarige getuig dat opdragte telefonies by Vlakplaas ontvang is, maar hy het ontken dat hulle die Cradock Vier ooit as “terroriste” geklassifiseer het.
# AfriForum het ‘n regsoorwinning behaal wat Eskom dwing om sy steenkool-, diesel- en elektrisiteitsvoorsieningskontrakte bekend te maak. Die Appèlhof in Bloemfontein het Eskom se poging om ‘n uitspraak van 2024 tersyde te stel, met koste van die hand gewys. Eskom moet nou die aangevraagde dokumente verskaf. Morné Mostert van AfriForum sê die besluit sal ondersoek na verkrygingsprosesse moontlik maak en deursigtigheid bevorder oor hoe openbare fondse bestee word:
# Fannie Nkosi, ‘n beampte van die SAPD se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad in Gauteng, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, het hom opdrag gegee om as tussenganger met die sakeman Vusimuzi Matlala op te tree. Nkosi sê hy het kommunikasie tussen die twee gefasiliteer, insluitend die reël van vergaderings. Hy het bevestig hy was nie by die vergaderings teenwoordig nie, maar Matlala het voorgestel dat hy invloed op bevorderings van senior polisieleiers gehad het:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, sê hulle is verlig nadat die liggame van vyf mynwerkers wat dood is in ‘n modderstorting by die Ekapa Minerals-myn in Kimberley, Noord-Kaap, gevind is. Die mynwerkers is sedert 17 Februarie, 890-meter ondergronds vasgekeer. Die laaste twee liggame is Maandagoggend na die oppervlak gebring. Die eerste liggaam is verlede Maandag gevind en die ander twee Sondag. Lerato Mohatlane van Numsa, sê die fokus verskuif nou na die ondersteuning van gesinne, onbetaalde lone en voortgesette regsprosesse terwyl ondersoeke voortduur.
# Krieket: Kykergetalle van die T20 Krieket Wêreldbeker-eindstryd het digitale stroomrekords verpletter met 72,5-miljoen kykers wat in Indië aleen in spitstyd gekyk het. Die IKR se uitvoerende hoof, Sanjog Gupta, sê die geleentheid was ‘n bewys van hoe geliefd die sport is in krieket se passievolste mark. Krieket is sonder gelyke in die digbevolkste land ter wêreld met 1,4-miljard mense. Indië, as mede-gasheer en gunstelinge voor die toernooi, het die T20 Wêreldbeker vir ‘n rekord derde keer verower nadat hy Nieu-Seeland met 96 lopies geklop het in die wedstryd op 8 Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-618-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-465-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….