Nuus 18:00
BULLETIN 19 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Nkosi bevestig ActionSA se burgemeesterskomiteelid word verbind met omstrede tendergesprekke
# Binnelandse Sake gee gelyke erkenning aan Moslem-huweliksbeamptes
# En, die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning vra verantwoordelike watergebruik en beskerming van die ekostelsel
# Die SAPD-beampte Fannie Nkosi het bevestig ActionSA se burgemeesterskomiteelid, Kholofelo Morodi, was betrokke by gesprekke wat verband hou met die omstrede sekuriteitstender van die Tshwane Metropolisie. Die onthullings dra by tot voortdurende ondersoeke rondom verkrygingsprosesse en beweerde onreëlmatighede in die Stad Tshwane. Nkosi het voor die Madlanga-kommissie getuig en Morodi se rol in verwante kommunikasie erken, maar kon nie ander individue identifiseer na wie in ander gesprekke verwys is nie.
# Die Departement van Binnelandse Sake het verseker dat Moslem-huweliksbeamptes kragtens die Huwelikswet, nommer 25 van 1961, nou op dieselfde basis as ander godsdienstige huweliksbeamptes erken word. Die Minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê beamptes sal nie meer elke vyf jaar aansoek hoef te doen nie, wat ongelyke behandeling regstel en verseker dat alle geloofsgemeenskappe gelykwaardig onder die wet behandel word:
# Gemeenskappe regoor die Wes-Kaap kan toenemende watertekorte verwag as gevolg van lae reënval, verouderende infrastruktuur, indringerbome en stygende aanvraag. Die Provinsiale LUR van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap, Anton Bredell, het inwoners weereens aangespoor om water te bespaar en waterbewuste praktyke toe te pas, in die lig van die huidige droogtesituasie waarmee die provinsie te kampe het:
# Die DA in Mpumalanga het die verkryging van ‘n hofbevel deur die Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer verwelkom teen konstruksiemafias en gemeenskapslede wat die konstruksie van die Mapulaneng-hospitaal in Bosbokrand ontwrig het. Teboho Sekaledi van die DA sê die konstruksie van die hospitaal het in 2017 begin en die Departement het altesaam 2,5-miljard-rand aan die projek bestee, wat teen Junie 2025 voltooi moes gewees het:
# Israel het vandag die Rafah-oorgang met Egipte na byna drie weke heropen om sommige gewonde Palestyne toe te laat om behandeling te ontvang. Dit volg nadat mediese personeel in Gaza gesê het vier mense is in die enklawe dood na Israeliese aanvalle. Die Palestynse Rooi Halfmaan sê slegs agt Palestyne wat tydens die twee jaar lange oorlog in Israeliese aanvalle beseer is, en 17 van hul familielede, sal vir mediese behandeling in Egipte toegelaat word nadat die oorgang heropen is. Dit is onduidelik hoeveel vanuit Egipte terug na Gaza toegelaat sou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-154-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-581-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….