Nuus 18:00
BULLETIN 17 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola ontken hy het opdrag gegee vir ‘n klopjag op die afgetrede adjunk- nasionale kommissaris, Francinah Vuma
# Soil of Africa eis die inkontraktering van Binnelandse Sake-werkers
# En, Cosatu is bekommerd oor Nersa se goedkeuring van elektrisiteitstariewe
# Die nasionale Kommissaris van Polisie, Fannie Masemola het bewerings ontken dat hy ‘n klopjag op afgetrede adjunk- nasionale kommissaris van Polisie Francinah Vuma versoek het. Masemola het aan die parlement se ad hoc-komitee gesê hy het ‘n toesigbesoek afgelê om die opknapping van die SAPD-hoofkantoor in die Telkom-torings in Pretoria, asook die vloer van die Ministerie van Polisie, te beoordeel. Hy het verduidelik sy teenwoordigheid het verband hou met opknappings, nie met enige operasionele opdrag nie:
# Soil of Africa veroordeel die uitkontraktering van digitaliseringswerkers in die Departement van Binnelandse Sake en noem dit uitbuiting. Woordvoerder Bongani Ramontja sê langdienende werkers is onseker oor hul kontrakte ondanks jare se diens. Hy sê die groep eis permanente indiensneming met volle voordele. Ramontja het ook planne aangekondig vir ‘n massa-optog na die Uniegebou om die regering te vra om alle betrokke werkers in bestendige posisies te plaas:
# Die vakverbond Cosatu sê hy is bekommerd oor die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se besluit om van 1 Julie 2026 ‘n verhoging van 9,01-persent in elektrisiteitstariewe goed te keur. Dit is in ooreenstemming met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur wat munisipaliteite toelaat om tariewe aan die begin hulle boekjaar aan te pas. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê dis onaanvaarbaar dat landsburgers twee dekades lank skerp stygings wat ver bo inflasie is, moet verduur:
# Pleitonderhandelinge met die Staat vir voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine Mugabe, en medebeskuldigde Tobias Mugabe Matonhodze vorder. Die twee het vandag in die Alexandra-landdroshof verskyn. Hulle regsverteenwoordiger, Sinenhlanhla Mnguni, sê gesprekke is in ‘n gevorderde stadium, maar is vertraag weens die onbeskikbaarheid van ‘n senior staatsaanklaer. Die saak, wat voorheen uitgestel is, sal na verwagting volgende week gefinaliseer word wanneer pleitooreenkomste formeel gesluit kan word.
# Gholf: Die Amerikaner Phil Mickelson maak dié week in Suid-Afrika sy buiging in die LIV Gholf-seisoen. Sy HyFlyers GC-span het die terugkeer van sy kaptein op sosiale media bevestig. Die 55-jarige Mickelson het die eerste vier byeenkomste van die seisoen misgeloop weens ‘n onbekende gesinsgesondheidskwessie. Die plaaslike sterre wat deelneem, sluit in Louis Oosthuizen, Dean Burmester, Charl Schwarzel en Branden Grace. Die toernooi, LIV Gholf se eerste byeenkoms op die vasteland, begin Donderdag in Steyn City in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-865-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-9-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….