Nuus 18:00
BULLETIN 16 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe sê Suid-Afrika moet vervaardiging verhoog te midde van die wêreld-oliekrisis
# Die DA verwelkom ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na 777-miljoen-rand se tenders vir watertenkwaens in Tshwane
# En, Jacob Zuma-regspan vra toegang tot boodskappe van die Waarheid- en Versoeningskommissie-ondersoekvoorsitter
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika moet dringend die land se brandstof-raffinadery-kapasiteit verhoog om die ekonomie te beskerm. Dit volg te midde van stygende oliepryse as gevolg van die VSA-Israel-Iran-konflik. Mantashe het tydens die Suider-Afrikaanse Olie- en Gaskonferensie in Kaapstad gewaarsku dat petrolkoste volgende maand skerp kan styg. Hy het beklemtoon die aktivering van bestaande raffinaderye, insluitend PetroSA en die Suid-Afrikaanse Petroleumraffinadery, is die sleutel tot die handhawing van brandstofbeskikbaarheid:
# Die DA sê die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na die Stad Tshwane se besteding van 777-miljoen-rand aan watertenkwaens in die 2024/25-boekjaar is ‘n stap in die regte rigting om beweerde korrupsie rondom die watertenkwa-mafia bloot te lê. Die DA-lid, Cilliers Brink, beweer ondernemings wat verbind is aan die ANC se adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, het meer as 31-miljoen-rand se kontrakte ontvang al besit hul geen watertenkwaens nie:
# Die voormalige president Jacob Zuma se regspan vra toegang tot e-posse en WhatsApp-boodskappe tussen die voorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie se sake-ondersoek, afgetrede regter Sisi Khampepe, en die hoofgetuienisleier, Ishmael Semenya. Dit volg terwyl die Hooggeregshof in Johannesburg Zuma en voormalige president Thabo Mbeki se hersiening aanhoor oor Kampepe se weiering om haarself te onttrek weens beweerde vooroordeel, belangebotsing en geheime advies aan Semenya. Die prokureurs beweer daar was onbehoorlike ingryping in verlede jaar se mislukte poging om Semenya te dwing om te bedank.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer sê die Verenigde Koninkryk sal nie in ‘n “wyer oorlog” oor Iran betrokke raak nie. Hy werk saam met bondgenote aan ‘n lewensvatbare plan om die Straat van Hormoes te heropen, maar dring aan dit sal nie ‘n NAVO-sending wees nie. Die eerste minister sê dit is duidelik dat die Amerikaanse aanvalle die militêre vermoë van Iran verswak het. Hy sê na afloop van die konflik sal daar ‘n ooreenkoms moet wees wat Iran se vermoë moet beperk om sy kernprogram te herbou en internasionale verskeping moet beveilig. Starmer sê die Straat van Hormoes moet heropen word om bestendigheid van markte te verseker.
# Rugby: SA Rugby en die CANAL-Plus (ploes)-groep het hul voortgesette vennootskap met SuperSport herbevestig. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê SuperSport is al dekades lank deel van rugby en bring al die aksie na ondersteuners, insluitend Wêreldbeker-toernooie, en hulle is opgewonde om hierdie reis voort te sit. CANAL-Plus se direkteur vir sportinhoud, Rendani Ramovha, sê rugby speel ‘n belangrike rol in die sportpakket wat hulle aan Suid-Afrikaanse gehore lewer, en die vennootskap met SA Rugby is noodsaaklik om die beste in plaaslike en internasionale rugby te lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-042-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-32-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….