Nuus 18:00
BULLETIN 11 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Richard Shibiri sê sy verhouding met Vusimuzi “Cat” Matlala was om inligting te kry oor persone wat ondersoek word
# Old Mutual waarsku die herhaalde onttrekkings uit die tweepot-aftreestelsel is kommerwekkend
# En, Spanje stel ‘n instrument bekend om haatspraak op sosiale media te monitor
# Die geskorste hoof van Georganiseerde Misdaad van die SAPD, Richard Shibiri, het aan die Madlanga-kommissie gesê sy verhouding met die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala het begin terwyl hy inligting ingewin oor persone van belang wat met ondersoeke verband hou. Shibiri sê as ‘n ondersoeker vir Georganiseerde Misdaad betrek hy dikwels individue wat moontlik kennis dra van misdaadnetwerke. Hy het aan die kommissie gesê Matlala het blykbaar ‘n wettige sekuriteitsonderneming bedryf en hy het geen rede gehad om oortredings te vermoed of agtergrondtoetse uit te voer nie:
# Die finansiëledienstegroep Old Mutual waarsku herhaalde onttrekkings uit die tweepot-aftreestelsel kan langtermyn-aftree-spaargeld ondermyn. Old Mutual sê byna 80-persent van lede wat toegang tot die stelsel verkry het, verwag om nog te onttrek, hoofsaaklik om skuld te vereffen. Alex Forbes het meer as 140-duisend onttrekkingseise in die eerste week van die nuwe boekjaar aangeteken, met ongeveer 84-duisend wat reeds betaal is. Kenners waarsku gewoonte-onttrekkings kan die stelsel se doelwit, om spaargeld vir aftrede te bewaar, benadeel.
# Spanje gaan ‘n instrument bekendstel om haatspraak op digitale platforms te meet as deel van ‘n breër strategie om toesig oor sosialemediamaatskappye te verhoog. Die eerste minister Pedro Sanchez sê die nuwe instrument sal die regering in staat stel om die teenwoordigheid, versterking en impak van haatspraak aanlyn sistematies op te spoor. Hy sê aanlyn haatspraak veroorsaak diep verdeeldheid in die Spaanse samelewing. Die resultate sal openbaar gemaak word sodat burgers kan sien wie die inhoud blokkeer, wie weg kyk, en wie daarby baat vind.
# Krieket: Nieu-Seeland se witbal-kaptein, Mitchell Santner, en paaltjiewagter Devon Conway gaan net in die eerste drie van vyf T20’s teen Suid-Afrika speel wat Sondag begin. Die snelbouler Lockie Ferguson sal slegs in die tweede en die derde kragmeting speel. Hulle kry ruskans na die T20-Wêreldbekertoernooi waar hulle in die eindstryd teen die mede-gasheer, Indië, verloor het. Toetskaptein Tom Latham sal die span in die laaste twee wedstryde aanvoer waarin die kolwers Katene Clarke en Nick Kelly en die draaibouler Jayden Lennox hulle buiging kan maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-896-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-181-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-77-sent per vat.
# En aaastens, die brandweerdienste in die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit het bevestig die brand in die Du Toitskloof-pas is onder beheer, ondanks die uiterste hitte. Die woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê grondspanne sal steeds die gebied monitor en opruim, terwyl ander dele tans geëvalueer word om te verseker die brand bly onder beheer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….