Nuus 18:00
BULLETIN 10 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA se versoek vir ‘n dringende parlementêre debat oor Midde-Oosterse krisis toegestaan
# Die sakeman Suliman Carrim ontken hy het as kanaal opgetree vir Vusimusi “Cat” Matlala se betalings aan Hangwani Maumela
# En, FOSA sê vroue en meisies se openbare gesondheidskwessies moet met die grootste deursigtigheid hanteer word
# Build One South Africa verwelkom die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, se besluit om ‘n dringende debat te hou oor die toenemende Midde-Oosterse krisis ná die onlangse Amerikaanse aanval op Iran. Die debat sal fokus op die veiligheid van Suid-Afrikaners in die streek, moontlike ekonomiese uitwerkings op die land, en Suid-Afrika se buitelandse beleidsposisie. Roger Solomons van BOSA sê die bespreking sal die regering se aanspreeklikheid verseker en help om die burgers en nasionale belange te beskerm namate spanning wêreldwyd toeneem.
In verdere verwikkelinge in die Midde-Ooste het oliepryse vandag skerp met meer as vyf-persent gedaal nadat dit tot ‘n hoogtepunt in meer as drie jaar gestyg het. Dit volg na die Amerikaanse president, Donald Trump, voorspel het die oorlog in die Midde-Ooste kan binnekort eindig. Dit het handelaars gerus gestel en kommer oor langdurige ontwrigtings in olievoorrade verlig. Brent-termynkontrakpryse was teen middagete 6,7-persent laer teen 92-dollar-32-sent per vat, terwyl Amerikaanse Wes-TexasIntermediate-ruolie 5,7-persent laer was teen 89-dollar-33 sent per vat. Olie het gister weens die konflik tot meer as 119-dollar per vat gestyg – die hoogste punt sedert die middel van 2022.
# Die sakeman Suliman Carrim het ontken hy het as ‘n kanaal opgetree om fondse vir die omstrede sakeman, Vusimuzi “Cat”Matlala aan die sakeman Hangwani Maumela oor te dra. Carrim het voor die Madlanga-kommissie getuig en tydens vrae van die getuienisleier, Matthew Chaskalson, bewerings ontken dat hy 500-duisend-rand van Matlala se 1,5-miljoen-rand aan Maumela gestuur het vir ‘n lening, en voer aan hy het nooit daardie rol aanvaar nie. Hy het by sy standpunt gebly en botweg geweier om as ‘n kanaal bestempel te word:
# Forum for South Africa sê vroue en mesies se openbare gesondheidskwessies moet altyd met deursigtigheid en dringendheid hanteer word. Kenners van Suid-Afrikaanse navorsings- en kliniese instellings het verseker dit is veilig om sanitêre doekies te gebruik ná ‘n studie deur die Universiteit van die Vrystaat getoon het sekere produkte bevat skadelike chemikalieë. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, vra vervaardigers vir deursigtigheid rakende die chemiese samestelling van sanitêre produkte:
# Krieket: Indië het ‘n bonus van meer as 230-miljoen-rand van sy beheerliggaam gekry omdat hy Sondag die T20-Wêreldbekertitel behou het. Dit is ses keer meer as die prysgeld wat hy verdien het deur Nieu-Seeland in die eindstryd met 96 lopies te klop. Die wêreld se rykste krieketraad, die BCCI, het die mede-gasheer geluk gewens met sy derde titel en dit ‘n geskiedkundige prestasie genoem. Kaptein Suryakumar Yadav sê nadat hulle verlede jaar ook die Kampioenetrofee ingepalm het, mik hulle nou na goud op 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-538-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….