Nuus 18:00
BULLETIN 24 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbuyiseli Madlanga ondervra Shadrack Sibiya oor ‘n subtiele waarskuwing aan Vusimusi “Cat” Matlala oor die kansellasie van die Medicare24-kontrak
# GIWUSA verwerp alle pogings om fiskale besuinigingsmaatreëls in die begroting in te stel
# En, die ANC verwerp die Stad Kaapstad se verkope van grond en eiendomme
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, sê die geskorste adjunk- nasionale Polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het dalk in Mei 2025 die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala subtiel gewaarsku oor die moontlike kansellasie van die Medicare24-kontrak. Sibiya het die ouditverslag in Maart 2025 gedeel,wat dui op moontlike probleme agter die skerms. Sibiya hou vol hy het die verslag slegs met sersant Fannie Nkosi gedeel en ontken dat hy Matlala ingelig het oor dreigende verwikkelings:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, berei voor om môre sy begrotingsrede te lewer, terwyl GIWUSA alle pogings verwerp om fiskale besuinigingsmaatreëls in te stel. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê agtereenvolgende regerings het die fiskus stelselmatig van inkomste ontneem. Korporatiewe belasting het tydens apartheid op meer as 50-persent gestaan. Sebei sê dit is tans 27-persent:
# Die ANC in Kaapstad verwerp die metro se verkope van grond en eiendom. Die metro wil Donderdag sowat 50 van die stad se eiendomme, insluitend die Goeie Hoop-sentrum, opveil. Hy sê die verkope sal ekonomiese, maatskaplike en ruimtelike waarde ontsluit en inwoners deur herbelegging in dienslewering baat. Akhona Jonginamba van die ANC sê die Stad Kaapstad moenie sê hy het nie grond beskikbaar om gemeenskappe wat grond nodig het te hervestig nie:
# Boks: Floyd Mayweather kom terug uit uittrede om in September teen Manny Pacquiao te veg in die heel eerste beroepsgeveg in die Sphere in Las Vegas. Die 48-jarige Amerikaner het gewen toe hulle in Mei 2015 kragte gemeet het in die sogenaamde ‘geveg van die eeu’. Pacquiao van die Filippyne het in 2021 uitgetree om op sy politieke loopbaan te fokus, maar in Julie na die kryt teruggekeer om teen die WBC-weltergewigkampioen Mario Barrios te veg. Mayweather sê hy is seker hy sal Pacquiao weer kan verslaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-871-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-125-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte, die Amerikaanse akteur, Robert Carradine, wat veral bekend is vir sy rolle in Revenge of the Nerds en Lizzie McGuire, is op 71-jarige ouderdom oorlede. Sy familie sê hy het sy eie lewe geneem nadat hy byna twee dekades lank ‘n stryd teen bipolêre versteuring gevoer het. Die familie sê hulle wou die oorsaak van sy dood aankondig om bewustheid te skep van die stigma wat steeds aan geestesongesteldheid kleef. Carradine was veral bekend vir sy rol as die hoof-nerd in Revenge of the Nerds en die pa van Lizzie McGuire in die Disney Channel-reeks van die 2000’s.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….