Nuus 18:00
BULLETIN 26 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê die vennootskap tussen die regering en sakeondernemings sal werkers en armes se belange ondermyn
# Die ANC LP Nomasonto Motaung is die nuwe voorsitter van die Parlementêre Landbou-portefeuljekomitee
# En, die koninklike wagte gebruik Dolly Parton se trefferliedjie as ‘n huldeblyk aan die geliefde sangeres
# Die vakverbond SAFTU het president Cyril Ramaphosa se bekendstelling van Fase Drie van die vennootskap tussen die regering en sakeondernemings veroordeel. Hy beskryf dit as ‘n verskerping van korporatiewe inmenging in die regering. Die vennootskap se derde fase fokus op die bespoediging van ekonomiese groei en uitbreiding van werksgeleenthede. SAFTU-woordvoerder Asive Dyani sê daar word verwag dat werkers die gevolge van ekonomiese besluite wat die regering en die sakesektor neem, moet aanvaar terwyl hulle organisasies uitgesluit word:
# Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Landbou het die ANC-Parlementslid Nomasonto Motaung verkies as sy nuwe voorsitter. Motaung volg die waarnemende voorsitter Nobuhle Nkabane op, wat oorgeneem het toe Dina Pule in Junie aangestel is as die minister van Maatskaplike Ontwikkeling. Die voormalige adjunkminister in die Presidensie sê landbou is uiters belangrik vir voedselsekerheid, ekonomiese groei, werkskepping en landelike ontwikkeling. Sy het beloof om die komitee regverdig te lei en op die behoeftes van boere, landbouwerkers en gemeenskappe te fokus.
# Johannesburg Water sê die Stad gebruik sowat 200-megaliter meer water per dag as sy voorsieningsteiken, wat druk op die stelsel plaas. In ‘n onderhoud met eNCA sê bestuurder Gugulethu Quma die daaglikse vraag is gemiddeld tussen een-duisend-700 en een-duisend-750-megaliter teenoor ‘n teiken van een-duisend-500 tot een-duisend-550 megaliter. Hy sê die Stad bespaar water oornag in reservoirs en beperk die voorraad om vlakke te behou vir gebruik gedurende die dag in huise, ondernemings, skole en hospitale:
# Gholf: Die uitvoerende hoof van die PGA-toer, Brian Rolapp, sê daar is tans geen planne vir die herinstelling van die Terugkerende Lidprogram waarvolgens die vyfmalige major-kampioen Brooks Koepka van LIV Gholf teruggekeer het nie. LIV se toekoms is onseker en spelers soos Bryson DeChambeau, Jon Rahm en Cameron Smith kan dit dalk oorweeg om volgende jaar terug te keer. Rolapp sê verskeie faktore sal in ag geneem moet word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-531-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-624-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-95-sent per vat.
# En laastens, duisende Dolly Parton-aanhangers het blomme, ballonne en kaartjies by die huis van die Amerikaanse musiekikoon gelaat. Parton is gister op 80-jarige ouderdom in Tennessee oorlede. Kanker is vroeër as die oorsaak van haar dood onthul nadat sy die diagnose privaat gehou het. Parton het meer as drie-duisend liedjies geskryf en meer as 100-miljoen plate oor ‘n loopbaan van sewe dekades verkoop. Huldeblyke het ingestroom vir die geliefde musikant, met die koninklike wagte by Buckingham-paleis in Londen wat haar trefferliedjie “Nine to Five” tydens vandag se Wisseling van die Wag uitgevoer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….