Nuus 18:00
BULLETIN 18 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya sê Fannie Masemola het nie beswaar gemaak teen die ontbinding van die Taakspan vir Politieke Moorde nie
# United Africans Transformation sê persone met gestremdhede word steeds van ekonomiese deelname ontneem
# En, Pule Mabe se korrupsiesaak is tot 5 Mei uitgestel
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het voor die Madlanga-kommissie getuig die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het nie beswaar gemaak teen die ontbinding van die Taakspan vir Politieke Moorde nie. Hy sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het beveel die taakspan moet onmiddelik ontbind word. Sibiya beklemtoon hy het uitsluitlik op amptelike opdragte volgens die gevestigde bevelsketting gereageer. Hy beklemtoon verder hy sou die wet oortree het indien hy ‘n opdrag verontagsaam het:
# United Africans Transformation sê byna twee dekades na die beleid van gelyke indiensneming, bly persone met gestremdhede steeds heeltemal onderverteenwoordig in Suid-Afrika se werksmag. Slegs ongeveer 1,4-persent van werknemers is persone met gestremdhede, met minder as 1,3-persent in senior bestuurposte. Kwena Maupje van die vakbond sê tydelike leerlingskappe en internskappe bied nie blywende geleenthede nie. Hy sê die regering, die privaat sektor en SETA’s moet gelyke indiensneming afdwing, permanente werksgeleenthede skep en betekenisvolle insluiting verseker:
# Die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng het die korrupsiesaak van die voormalige nasionale woordvoerder van die ANC, Pule Mabe tot 5 Mei uitgestel. Hy en sy medebeskuldigdes word aangekla in verband met ‘n beweerde onreëlmatige tender van 27-miljoen-rand wat in 2017 aan sy maatskappy, Enviro Mobi, toegeken is. Mabe sê sy regspan het voorleggings aan die Nasionale Vervolgingsgesag uitgebrei en mag dit later aanvul. Hy het ook sy voortgesette lojaliteit aan die ANC beklemtoon:
# ‘n Paneel onafhanklike deskundiges wat deur die Verenigde Nasies se Menseregteraad aangestel is, sê die misdade wat uiteengesit word in miljoene lêers wat verband hou met die seksoortreder, Jeffrey Epstein, is gepleeg teen ‘n agtergrond van heerssugtige oortuigings, rassisme, korrupsie en uiterste vrouehaat. Hulle sê die bewerings vereis ‘n onafhanklike, deeglike en onpartydige ondersoek. Ondersoek moet ook ingestel word na hoe dit moontlik was vir hierdie misdade om so lank gepleeg te word. Die dokumente het Epstein se bande met vele bekendes in die politiek, finansies, akademie en sakewêreld ontbloot.
# Gholf: Die vyftienmalige major-kampioen Tiger Woods sê sy deelname aan vanjaar se Meesters is steeds ‘n moontlikheid. Die 50 jarige Woods het sedert Julie 2024 nog nie weer aan ‘n amptelike PGA-toerbyeenkoms deelgeneem nie. Die Amerikaner het die hele 2025-seisoen misgeloop nadat hy sy hakskeensening in Maart geskeur het voor hy in Oktober ‘n rugoperasie ondergaan het. Woods het voor die Genesis-uitnodigingstoernooi wat hy aanbied, gesê hy probeer elke dag om sterker te word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-262-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-983-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….