Nuus 18:00
BULLETIN 12 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# DNS verbind Getuie D-moordverdagtes met ‘n ander moord
# Goedgekeurde beleggings in Tshwane styg tot 11,8-miljard-rand
# En, die DA veroordeel Rand West se multimiljoen-tendertoekenning aan ‘n staatsamptenaar
# ‘n Senior ondersoeker in die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat, Nomsa Masuku, het aan die Madlanga-kommissie gesê verdagtes in die moord op Getuie D, Marius van der Merwe in Brakpan, het vrywillig DNS ingedien om hulself uit te skakel. Die monsters is later vergelyk en het ooreengestem met kontrolemonsters wat op die oorspronklike misdaadtoneel van ’n slagoffer, Mnr. Benson, geneem is. Sy het egter bevestig die forensiese verslag mies vertroulik bly terwille van die die voortgaande strafregtelike verhoor:
# Die Tshwane Ekonomiese Ontwikkelingagentskap sê beleggersvertroue het sterk herstel. Die waarde van nuwe goedgekeurde beleggingsprojekte het van 1,7-miljard-rand in 2024/2025 tot 11,8-miljard-rand in die tweede kwartaal van die 2025/2026-boekjaar gestyg. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê dit is nuwe mylpaal na etlike jare van ‘n afwaartse neiging en dui op ‘n beslissende opswaai:
# Die DA-leier in Gauteng, Solly Msimanga, veroordeel die Rand West Distriksmunisipaliteit vir die toekenning van ‘n tender van 76,18-miljoen-rand aan ‘n staatsamptenaar. Dit is in die Ouditeur-Generaal se 2023/24 munisipale finansiële verslag onthul. Die Ouditeur-Generaal het 432 verbode toekennings gerapporteer, wat dui op swak interne beheermaatreëls. Msimanga het swak dienslewering en onbefondsde mandate gekritiseer en belowe om die tender in die Gautengse wetgewer te bevraagteken. Die DA stel ‘n verpligte sakeverklaringsregister voor om te verhoed dat amptenare voordeel te trek uit regeringskontrakte.
# Dele van Spanje en Portugal is op hoë gereedheidsgrondslag met swaar reën en sterk wind wat die Iberiese skiereiland teister, bome ontwortel, vervoer ontwrig en die sluiting van skole afdwing. ’n Rooi waarskuwing is in die noordelike Spaanse streke van Galicië, Kantabrië en die Baskeland afgekondig ná die aankoms gister van Nils, die agtste storm wat die land vanjaar tref. Weervoorspellers waarsku teen golwe van tot nege meter hoog. Ten minste vyf mense is as gevolg van die wind in Katalonië beseer.
# Sokker: Die waarnemende direkteur van Amerikaanse Immigrasie- en Doeane-wetstoepassing, Todd Lyons, sê sy agente sal ‘n integrale deel van veiligheidsmaatreëls uitmaak op die mans-Wêreldbekertoernooi wat in Junie en Julie in Amerika, Kanada en Mexiko plaasvind. Agt-en-sewentig van die 104 wedstryde sal in Amerika gespeel word. Die eenheid se agente het onder groot kritiek deurgeloop na die dood van twee Amerikaanse burgers, Alex Pretti en Renee Nicole Good, tydens betogings in Minneapolis. Lyons sê sy eenheid is verbind tot die veiligheid van alle deelnemers en besoekers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-82-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-64-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 68-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….