Nuus 18:00
BULLETIN 11 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pieter Groenewald sê die Nelson Mandela-reëls-opleidingsakademie bemagtig oortreders vir herintegrasie
# AfriForum vra Barbara Creecy om die geldigheid van rybewyse tot agt jaar te verleng
# En, ActionSA gaan ‘n saak aanhangig maak oor 100-duisend-rand wat Paul O’Sullivan blykbaar ontvang het
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, sê die nuutgestigte Nelson Mandela-reëls-opleidingsakademie in die Wes-Kaap bewys die korrektiewe stelsel in Suid-Afrika het ontwikkel en is betekenisvol. Groenewald sê oortreders word toegerus met praktiese vaardighede vir rehabilitasie, indiensneembaarheid en waardigheid. Hy het verwys na ordelike programme en slypskole wat koste verminder, selfstandigheid bevorder en voormalige gevangenes in staat stel om ‘n positiewe bydrae tot gemeenskappe te lewer:
# AfriForum het ‘n brief gerig aan die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en haar aangespoor om die beplande verlenging van die geldigheid van rybewyskaarte van vyf tot agt jaar te implementeer. Die Departement van Vervoer se Jaarlikse Prestasieplan vir 2025/2026 moet teen Maart 2026 voor die parlement dien. Louis Boshoff van AfriForum waarsku die tyd min raak en het verwys na vorige drukkeronderbrekings wat groot agterstande veroorsaak het. Hy sê die verlenging van geldigheid sal die aanvraag verlig en stelselopgraderings moontlik maak:
# ‘n Parlementslid van ActionSA, Dereleen James het die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan uitgedaag oor een-honderd-duisend-rand wat hy ontvang het, en sê sy verduideliking weerspreek vroeëre getuienis aan die parlement se ad hoc-komitee. James sê O’Sullivan het ontken dat hy enige betaling ontvang het, maar kwitansies toon dat hy uit ‘n misdaadintelligensie-omkoopfonds betaal is. O’Sullivan hou vol dat die geld ‘n terugbetaling was vir uitgawes in die ondersoek na die voormalige Nasionale Polisiekommissaris, Jackie Selebi. Sy beweer O’Sullivan het onder eed gelieg:
# Indië het reëls bekendgestel waarvolgens sosialemediamaatskappye verplig word om onwettige materiaal te verwyder binne drie uur nadat hulle in kennis gestel is. Dit is ‘n groot verskerping van die bestaande 36-uur sperdatum. Die gewysigde riglyne tree op 20 Februarie in werking en is van toepassing op groot platforms, insluitend Meta, YouTube en X, sowel as KI-gegenereerde inhoud. Die regering het geen rede verskaf vir die verkorting van die verwyderingsvenster nie. Kritici is bekommerd dat die skuif deel is van ‘n breër toepassing van toesig oor aanlyn inhoud wat tot sensuur in die wêreld se grootste demokrasie kan lei.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, sal vir ‘n geruime tyd nie kan speel nie nadat ‘n bal hom in die gesig getref het. Hy moes ‘n operasie ondergaan en het daarna foto’s op sosiale media geplaas van sy opgeswelde gesig en geskerts dat die bal slegter lyk as hy. Stokes is nie meer deel van Engeland se witbal-span nie en neem nie deel aan die T20-Wêreldbekertoernooi nie. Hy speel tans graafskapskrieket vir Durham en sal eers in Junie weer toetskrieket speel teen Nieu-Seeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-599-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-66-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….