Nuus 18:00
BULLETIN 9 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM waarsku oor Suid-Afrika se swak gereedheid om gure weer te behartig
# FOSA eis die regering moet ie Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se befondsing vooropstel
# En, die Motorbedryfpersoneelvereniging verwelkom die handelsooreenkoms met China
# Die United Democratic Movement het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se gereedheid om gure weer te behartig nadat Oranje Vlak 5-donderstormwaarskuwings in KwaZulu-Natal en vloedwaarskuwings in die Oos-Kaap uitgereik is. Die waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, sê onvoldoende munisipale beplanning, verwaarloosde infrastruktuur en reaktiewe rampbestuur plaas gemeenskappe in gevaar. Sy waarsku die impak van klimaatsverandering, insluitend vloede, droogtes en storms, is strukturele bedreigings wat gekoördineerde bestuur, behoorlike beplanning en dringende belegging in veerkragtigheid vereis om lewens en infrastruktuur te beskerm.
# Die Forum for South Africa eis die regering en die Departement van Verdediging moet onmiddellik die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se befondsing, toerusting en soldate-welsyn vooropstel. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die SANW is oorbelas, onderbefonds en verwaarloos. Hy sê daar word nietemin van hulle verwag om die las van streeksonbestendigheid te dra terwyl Suid-Afrika se gemeenskappe te kampe het met misdaad, werkloosheid, grensonsekerheid en ineenstorting van infrastruktuur:
# Die Motorbedryfpersoneelvereniging verwelkom die China-Afrika Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms wat minister Parks Tau en China se minister van Handel, Wang Renato, onderteken het. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê die ooreenkoms bied Suid-Afrika tariefvrye toegang tot Chinese markte sonder kwotas en dek handel, belegging en nuwe samewerking met energie. Sy voeg by dit kan plaaslike motorvervaardiging uitbrei, handelaarsnetwerke versterk, en werksgeleenthede in logistiek, kleinhandel, diens en onderdele-verspreiding skep, wat 75-duisend werkers sal bevoordeel:
# Brittanje se prins William en sy vrou, Kate, is diep bekommerd oor onthullings in die Jeffrey Epstein-lêers te midde van verdere verdoemende onthullings oor die troonopvolger se oom, Andrew Mountbatten-Windsor. Die voormalige prins is uit die koninklike binnekring geskop oor sy noue verhouding met die veroordeelde pedofiel. Nuut vrygestelde e-posse dui daarop dat Andrew tydens sy amptelike rol as ‘n regeringsgesant in 2010 amptelike Britse handelsdokumente en sensitiewe inligting met Epstein gedeel het. Hy het na bewering verslae oor Viëtnam, Singapoer en ander plekke wat hy amptelik besoek het, aan Epstein gestuur.
# Motorsport: Cadillac se Mexikaanse renjaer, Sergio Perez, sê hulle sal teleurgesteld wees as hulle laaste eindig in hul eerste Formule Een-seisoen. Daar word nie veel van die span verwag nie, wat deur General Motors gesteun word en met Ferrari-enjins ry. Perez en sy Finse spanmaat, Valtteri Bottas, is egter ervare bestuurders wat weet hoe om wedrenne te wen. Perez sê hulle besef hulle sal nie vanjaar die kampioenskap wen nie, maar wil aansienlik vorder en ‘n paar spanne klop. Die seisoen begin op 8 Maart in Melbourne, Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-413-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-15-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….