Nuus 18:00
BULLETIN 5 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa prys die Suid-Afrikaanse Inkomstediens as ‘n hoogs betroubare, doeltreffende instelling
# Dianne Kohler Barnard ontken sy het misdaadintelligensie-inligting verkeerd hanteer
# En, die Arbeidsappèlhof handhaaf die afdanking van die voormalige waarnemende SAPD-kommissaris, Khomotso Phahlane
# President Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geprys as een van die mees doeltreffende, bes-bestuurde en hoogs betroubare staatsinstellings. Hy het ‘n toesigbesoek aan die SAID se Nasionale Bevelsentrum in Pretoria afgelê. Ramaphosa het beklemtoon dat die openbare vertroue in die SAID oor vyf jaar van 48-persent tot 75-persent gestyg het. Hy het die Diens geprys vir sy rol in die bevordering van beleggersvertroue, die verbetering van belastingadministrasie en sy bydrae tot die soewereine verbetering van die land se kredietgradering:
# Die DA Parlementslid, Dianne Kohler Barnard, het ontken sy het misdaadintelligensie-inligting verkeerd hanteer. Sy het verskyn voor die Parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na beweerde korrupsie in die polisie en politieke inmenging. Die bewerings hou verband met ‘n luukse hotel in Pretoria wat vir 23-miljoen-rand gekoop is met behulp van ‘n geheime omkoopfonds. Die beskuldigings volg nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, haar beskuldig het dat sy geklassifiseerde inligting gedeel het. Barnard sê die inligting was toe reeds in die openbaar bekend:
# Die Arbeidsappèlhof het die ontslag van voormalige waarnemende nasionale kommissaris van Polisie, Khomotso Phahlane van 2020 gehandhaaf en sy aansoek om na die Polisiediens terug te keer, verwerp. Phahlane is skuldig bevind aan oneerlike gedrag en dat hy die Polisiediens in oneer gebring het oor ‘n kontrak van 460-miljoen-rand vir 360-grade kameras. Die hof het beslis dat daar geen onreëlmatighede in die arbitrasieproses was nie. Ten spyte daarvan dat Phahlane beweer sy ontslag was onbillik, het die hof sy verwydering uit die SAPD as wettig bevestig na ‘n drie-jaar lange skorsing en ondersoek.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het vordering aangeteken met sy studentegoedkeurings nadat meer as 180-duisend uitstaande dokumente weer ingedien is. Dit het gelei tot ‘n bykomende 50-duisend studentegoedkeurings voor registrasies gesluit het. NSFAS bevestig aansoeke vir die akademiese jaar word steeds verwerk vir eerstekeer-studente, terugkerende universiteitstudente en studente aan kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding. Verkeerde of onduidelike dokumente vertraag egter steeds uitkomste. NSFAS vra studente om duidelike dokumente in te dien en te verseker toestemmings- en verklaringsvorms is volledig voltooi om verdere verwerkingsagterstande te vermy.
# Sokker: Manchester City se afrigter, Pep Guardiola, dring aan op ‘n reëlverandering sodat die verdediger Marc Guehi vir sy span kan speel in die Carabaobeker-eindstryd teen Arsenal. City het gister die titelwedstryd gehaal toe hy die verdedigende kampioen, Newcastle United, met altesaam 5-1 geklop het. Guehi mag nie in die eindstryd speel nie omdat hy vroeër vir Crystal Palace gespeel het voor hy na City verskuif het. Guardiola sê dit maak nie sin dat hulle nie ‘n speler mag gebruik waarvoor hulle baie betaal het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-846-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-837-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….