Nuus 18:00
BULLETIN 4 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie ondersoek die uitlek van lasbriefbesonderhede van ‘n mediapersoonlikheid wat met Matlala verbind word
# Die TLU SA sê loonverhogings sal landelike werkverliese vererger
# En, minister Buti Manamela vra sterker gehalteversekering van hoër onderwys in Afrika
# Die kommissaris van die Madlanga-kommissie, Sandile Khumalo, het Getuie F ondervra oor lasbriefbesonderhede wat verband hou met die sosiale media-persoonlikheid, Musa Khawula wat met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gedeel is. Dit volg na bewerings dat die Polisie se hoof van Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri, Khawula genader en gevra het om nie meer oor Matlala te berig nie, en later skermgrepe met Getuie F gedeel het. Die getuie het aan die kommissie gesê hy kan nie bevestig of Shibiri vir Khawula gewaarsku het om die dekking te staak nie:
# TLU SA sê die minimumloonverhoging tot 30-rand-23 sent per uur wat volgende maand intree neem nie die moeilike ekonomiese werklikheid in ag nie. Die organisasie sê boere en ondernemings verkeer reeds onder druk weens uitbrekings van bek-en-klouseer en swak vordering, en waarsku hoër arbeidskoste kan tot werkverliese lei, veral in landelike gebiede. Bennie van Zyl van TLU SA kritiseer ook die regering omdat hulle die privaat sektor dwing om lone te betaal wat hy self nie kan bekostig nie:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê Afrika het die wêreld se jongste bevolking en vinnig groeiende hoër onderwysstelsels, maar ervaar uitdagings met befondsing, toegang en vermoë. Manamela het tydens die 2026 forum vir Internasionale Netwerk van Gehalteversekeringsagentskappe in Hoër Onderwys beklemtoon gehalteversekering is noodsaaklik vir transformasie, regverdigheid en openbare vertroue. Hy beklemtoon die rol wat tegnologie, kunsmatige intelligensie, streeks- en wêreldwye samewerking in die versterking van hoër onderwys speel, om toegang te verbreed en maatskaplike en ekonomiese belange te bereik.
# Vyftien migrante is dood en 24 gered toe hul boot met ‘n kuswagvaartuig naby die Griekse eiland, Chios gebots, omgeslaan en gesink het. Volgens die Kuswag het die botsing plaasgevind toe die bemanning van ‘n migranteboot met afgeskakelde navigasieligte, seine van ‘n patrollievaartuig ignoreer en van koers verander het. Die oorlaaide boot het omgeslaan en gesink met al die passasiers wat oorboord geval het. Griekeland is lank reeds ‘n gunsteling-deurgangspunt na Europa vir migrante en vlugtelinge uit die Midde-Ooste, Afrika en Asië.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika het ‘n rekordgetal van vyf atlete by die Winterspele wat Vrydag in die noorde van Italië begin. Hulle is Nicole Burger, wat aan die skeleton-wedloop gaan deelneem, die landloop-skiër Matthew Smith, die vryslag-skiër Malica Malherbe, en die 17-jarige Thomas Weir en die 18-jarige Lara Markthaler wat albei meeding in die Alpynse ski-kompetisies. Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese en Paralimpiese Komitee het aansporings aangekondig vir medaljewenners – 400-duisend-rand vir goud, 200-duisend vir silwer en 75-duisend vir brons.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-170-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-36-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….