Nuus 18:00
BULLETIN 29 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê 2026 is die jaar van beslissende optrede om plaaslike regering reg te ruk
# RISE Mzansi sê die nuwe eenheid wat bewerings voor Madlanga-kommissie gaan ondersoek, moet veiligheidsklaring hê
# En, SAFTU verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se verhaling van R1,7-miljard in ontoegekende NSFAS-fondse
# Die ANC sê 2026 sal ‘n beslissende jaar wees om mislukte munisipaliteite reg te ruk en dienslewering te verbeter. Dit sal fokus op die verbetering van basiese dienste soos water, elektrisiteit, paaie en sanitasie. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het ‘n nuuskonferensie gehou oor die uitkomste van die nasionale uitvoerende komitee-lekgotla. Hy sê openbare vertroue in die demokratiese regering sal beoordeel word deur sigbare verbeterings in gemeenskappe en optrede teen korrupsie:
# RISE Mzansi sê lede van die nuwe spesiale Ondersoektaakspan om bewerings deur die Madlanga-kommissie te ondersoek, moet veiligheidsklaring hê. President Cyril Ramaphosa het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opdrag gegee om ‘n eenheid te stig om ondersoek in te stel na diegene wat die Kommissie geïdentifiseer het. Makashule Gana van RISE Mzansi sê nie een van die lede moes voor die Kommissie of die Parlement se ad hoc-komitee getuig het of nog gaan getuig nie:
# Die vakbondfederasie SAFTU verwelkom die aankondiging oor die Spesiale Ondersoekeenheid se verhaling van 1,7-miljard-rand in ontoegekende fondse van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit is geld wat tussen 2016 en 2021 nie toegewys is nie, nadat studente wat vir befondsing gekwalifiseer het van instelling verander of gederegistreer het. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê hierdie hulpbronne was etlike jare beskikbaar terwyl duisende studente van hoër onderwys uitgesluit is:
# Die eerste minister van Brittanje, Keir Starmer, en die president van China, Xi Jinping, het belowe om ‘n ekonomiese vennootskap te bou met ooreenkomste wat ‘n groot belegging deur AstraZeneca insluit, wat volgens hulle albei lande sal bevoordeel. Op die belangrikste dag van sy vierdaagse besoek aan China het Starmer ongeveer drie ure saam met Xi deurgebring by ‘n formele beraad en ‘n middagete. Starmer is die jongste Westerse leier wat na China reis terwyl nasies hulle teen die onvoorspelbaarheid van die Amerikaanse president, Donald Trump staal. Vandag se gesprekke het ook veiligheidskwessies, Rusland se oorlog in Oekraïne, en menseregte ingesluit.
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap pak mekaar Saterdag in die elfde ronde. Die Leeus en die Bulle speel die middag 2.30 in Johannesburg, en vyf-uur verwelkom die Haaie die Stormers in Durban vir die tweede agtereenvolgende kus-derbie. Die Kaapstadse span het verlede naweek tuis met 30-19 teen die Haaie verloor, wat hulle na tweede plek op die punteleer laat terugsak het. Hulle is nou drie punte agter Glasgow Warriors.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-525-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….