Nuus 18:00
BULLETIN 27 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Toerisme sê kabinet onderskryf die vennootskapsplan vir toerismegroei om werksgeleenthede en beleggings te bevorder
# Die Vereniging van Staatsamptenare beywer hom steeds vir beter werksomstandighede personeel in die Polisiediens
# En, skoolpakkette met leermateriaal word vir die eerste keer in twee-en-‘n-half jaar in Gaza aflewer
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die kabinet onderskryf die toerismegroei-vennootskapsplan wat daarop gemik is om werkskepping en belegging in die sektor te versnel. Die plan is in samewerking met die bedryf ontwikkel en is gelei deur SA Toerisme se sakeraad. De Lille het op ‘n nuuskonferensie gesê die plan fokus op toegang, bemarking, veiligheid, produkontwikkeling en sterker regeringskoördinering, ondersteun deur ‘n intydse paneelbord om aflewering en aanspreeklikheid na te spoor:
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat hy Vusimusi ‘Cat’ Matlala as ‘n vriend of jonger broer beskou en beklemtoon hul ontmoetings was sosiaal of sakeverwant. Senona sê daar is nooit sedert 2020 ondersoek ingestel na Matlala nie en hy is nooit in provinsiale of nasionale forums bespreek nie. Hy erken hy het Matlala soms raad gegee oor CAT VIP se sekerheidsake en het hom voorgestel aan derde partye vir risikobestuur, maar ontken betrokkenheid by enige misdadige bedrywighede:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy beywer hom voortdurend om beter werksomstandighede, veilige werksomgewings en betroubare psigo-maatskaplike ondersteuning te verseker vir personeel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dis vandag Nasionale Polisiedag en die tema is: Agter die uniform: Die menslike sy van wetstoepassing. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê polisielede gaan gedurig gebuk onder hoërisiko-omgewings, trauma, openbare druk en beperkte hulpbronne:
# Die kinderagentskap van die Verenigde Nasies kon vir die eerste keer in twee-en-‘n-half jaar skoolpakkette met leermateriaal in Gaza aflewer. Duisende pakkette, insluitend potlode, werksboeke en houtblokkies, het nou die enklawe binnegekom nadat dit voorheen deur Israeliese owerhede geblokkeer is. Die UNICEF-woordvoerder James Elder het aan Reuters gesê kinders in Gaza het ‘n ongekende aanval op die onderwysstelsel beleef. Tydens die konflik het sommige kinders geen onderwys ontvang nie te midde van basiese uitdagings soos vars water en wydverspreide wanvoeding.
# Gholf: Selwyn Nathan het amptelik sy uittrede aangekondig as uitvoerende direkteur van die Sonskyntoer. Huldeblyke het ingestroom vir die toer se langsdienende uitvoerende lid en ook ‘n passievolle en toegewyde lid van Suid-Afrikaanse gholf. Nathan sal in Junie amptelik uittree, en die toer se kommissaris, Thomas Abt, sal alle uitvoerende verantwoordelikhede oorneem. Nathan bly op die raad as ‘n nie-uitvoerende lid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-179-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-60-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 65-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….