Nuus 18:00
BULLETIN 24 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Studente-skarefinansieringsorganisasie verwelkom die Parlement se steun vir die vrystelling van graadsertifikate
# Die Gautengse LUR vir Onderwys is ontsteld oor ‘die ‘n beweerde poging tot seksuele aanranding by ‘n skool
# En, vier is in hegtenis geneem oor vermeende vergiftiging van Keniaanse olifante
# Die studente-skarefinansieringsorganisasie Feenix verwelkom die Parlement se steun vir ‘n aanbeveling deur die Openbare Beskermer dat universiteite die terughouding van graadsertifikate weens studenteskuld moet heroorweeg. Dit volg na ‘n verslag dat meer as 188-duisend teruggehoude sertifikate verbind kan word met 55-miljard-rand se skuld, en administratiewe mislukkings by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die uitvoerende hoof van Feenix, Care-Jean Petersen, sê kollektiewe optrede is nodig om studente te help om grade te verwerf:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, is diep bekommerd oor ‘n beweerde poging tot seksuele aanranding by die Villa Liza Secondary School in Boksburg. Twee skoolseuns het na bewering ‘n Graad agt-meisie in die meisies se toilette vasgekeer, haar vasgehou en probeer ontklee. Die woordvoerder Onwabile Lubhelwana sê die departement sal met die ondersoek saamwerk en psigo-maatskaplike ondersteuning aan die leerder en haar gesin bied:
# Die kantoor van die hoofregter waarsku teen ‘n bedrieër wat hom voordoen as waarnemende regter-president Zamani Nhlangulela van die Oos-Kaapse afdeling. Die regbank sê hy is bewus van WhatsApp-boodskappe wat gestuur is met behulp van Nhlangulela se profielfoto en ‘n selfoonnommer wat in sy naam geregistreer is om mense te mislei. Die kantoor waarsku dit kom neer op bedrog en die saak sal by die owerhede aangemeld word. Hy het die publiek versoek om bedag te wees.
# Vier mense is in Kenia in hegtenis geneem terwyl ondersoekbeamptes probeer vasstel wat die dood van 18 olifante in die Amboseli-ekosisteem veroorsaak het. Die Keniaanse Natuurlewediens sê die diere is tussen Junie en verlede maand dood, met voorlopige laboratoriumtoetse wat op moontlike vergiftiging dui. Volgens vroeëre bevindinge was daar sianied teenwoordig in tamaties wat met plaagdoders besmet was en deur die olifante gevreet is. Owerhede het verskeie moontlike giftige, ongemerkte chemikalieë vir toetsing gekonfiskeer. Die ondersoek duur voort, maar amptenare beklemtoon arrestasies is nie noodwendig ‘n skuldigbevinding nie.
# Rugby: Die kaptein van Suid-Afrika se Vroue ‘A’-span, Mary Zulu sê hulle is gereed vir die uitdaging wanneer hulle teen Brasilië in São Paulo te staan kom. Die eerste van twee wedstryde word môre gespeel. Zulu en die ander agterspelers, Shaunique Alexander en Insaaf Levy, het vir die Springbokspan uitgedraf. Die span het agt 20-jariges en twee 19-jariges. Zulu sê hulle sal alles moet uithaal om te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-90-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-661-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….