Nuus 18:00
BULLETIN 15 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Amerika het reeds maande terug ‘n diplomatieke visum aan Mcebisi Jonas geweier
# Die MK-party verkla minister Mchunu by die Parlement se Etiekkomitee
# En rugby: Siya Kolisi keer terug vir die Bokke
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa het maande gelede reeds geweet Amerika het ‘n diplomatieke visum aan die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, geweier en dat sy geloofsbriewe reeds in Mei verwerp is. Hy het egter steeds Suid-Afrika se amptelike gesant gebly en uit die land vertrek sonder voldoende verteenwoordiging in Washington. Emma Louise Powell van die DA vra die dringende aanstelling van ‘n geloofwaardige nuwe gesant om die gespanne verhoudings te herstel omdat komende Amerikaanse tariewe uitvoere ernstig gaan bedreig:
# Die MK-party het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, by die Parlement se Etiekkomitee aangegee en beskuldig dat hy die Nasionale Vergadering mislei het oor sy verhouding met mense wat in ‘n skandaal rondom polisie-inmenging genoem is. Die party beskuldig Mchunu dat hy onder eed gelieg het deur teenstrydige verklarings te lewer. David Skosana van die MK-party het op ‘n nuuskonferensie gesê Mchunu se optrede het die openbare vertroue geskend en die integriteit van die Parlement in gevaar gestel:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê, die Staatsveiligheidsagentskap se nuwe nasionale veiligheidstrategie fokus op moderne, gekoördineerde reaksies op ontwikkelende bedreigings. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die strategie wat deur die Parlement goedgekeur is, berus op agt pillare, insluitend kuberserkerheid, grensbeveiliging, ekonomiese veerkragtigheid, omgewingsbeskerming, en kulturele sekerheid. Sy het ook gesê die plan het ‘n holistiese regerings- en gemeenskapsbenadering en plaas intelligensie sentraal in krisisvoorkoming en strategiese vooruitskouing.
# Die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, het bevestig dat sosiale media ‘n kernbelangrike rol gespeel het in die kommunikasieveldtog vir verlede jaar se verkiesing. Hy het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake gesê die veldtog het organiese sowel as betaalde inhoud gebruik met verskeie toepassings, insluitende Facebook, en meer as 203-miljoen boodskappe gestuur, terwyl SMSe en Please Call Me-boodskappe miljoene meer bereik het. Mamabolo sê ’n regstreekse webgesprek het onmiddellike kiesersondersteuning moontlik gemaak:
# Rugby: ‘n Voorry met drie nuwe Springbokke sal die skrum anker in Saterdag se eenmalige toets teen Georgië in Mbombela, met Boan Venter, Marnus van der Merwe en Neethling Fouché wat al drie hulle toets-buiging maak. Fouché en Van der Merwe het wel vir Suid-Afrika gespeel in die onlangse wedstryd teen die Barbarians in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi is terug na ’n besering en sal saam met Pieter-Steph du Toit en Cobus Wiese die lostrio vorm. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Grant Williams is die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-591-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-346-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….