Nuus 18:00
BULLETIN 30 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê sy 2026 manifes bied ‘n nuwe visie vir plaaslike regering
# Vusimuzi “Cat” Matlala se medebeskuldigde, Musa Kekana, beweer aanranding deur polisie het hom bloed laat hoes
# En, ActionSA is bemoedig deur die nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris se plan om voorkeur te gee aan die bekamping van bendegeweld
# Die EFF sê sy 2026 plaaslike regeringsverkiesingsmanifes bied ‘n nuwe visie vir munisipaliteite wat fokus op die verbetering van dienslewering, die skep van werkgeleenthede en die bekamping van korrupsie. Die party het belowe om betroubare water en elektrisiteit te prioritiseer, sleutel- munisipale dienste te bekom, plaaslike ondernemings deur middel van verkryging te ondersteun, behuising en gesondheidsorg uit te brei, en wetstoepassing te versterk. Die leier van die EFF, Julius Malema het stemgeregtigde Suid-Afrikaners aangemoedig om tydens die naweek se finale kiesersregistrasieveldtog te registreer:
# Beskuldigde nommer een in die Vusimuzi “Cat” Matlala-verhoor, Musa Kekana, beweer die polisie het hom gemartel ná sy inhegtenisneming in April 2024. Kekana het in die Hooggeregshof in Johannesburg beweer hy is aangerand tot hy bloed gehoes het. Sy regsverteenwoordiger, Riaan Gissing, wil hê getuienis en verklarings wat ná sy inhegtenisneming verkry is, moenie as deel van die verhoor toegelaat word nie. Hy voer aan dit is bekom deur marteling. Die ondersoekbeampte, Pimi Alfred Sekgobela, ontken egter dat hy Kekana aangerand het en sê hy het sy samewerking aan die polisie gegee.
# ActionSA sê die aanstelling van Sizakhele Dyantyi as nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris bied geleentheid om vertroue in polisiëring te herstel en die stryd teen georganiseerde misdaad te verskerp. Hy het 34 jaar polisie-ervaring en het verskeie operasionele en leierskapposisies in die Oos- en Wes-Kaap beklee. Stephan Gerber van ActionSA sê hulle is bemoedig deur Dyantyi se plan om voorkeur te gee aan bendegeweld en vertrou dat sy ervaring tot aksie sal lei:
# Die DA sê die Gautengse regering bestee meer as 230-miljoen-rand per jaar aan gehuurde onderwysdistrikskantore terwyl skole onderwerp word aan ernstige begrotingsbesnoeiings. Die woordvoerder van die DA, Michael Waters, het bevraagteken waarom staatsgeboue nie in plaas van privaat huurkontrakte gebruik word nie. Waters sê die besteding vind plaas terwyl sommige skole sukkel om munisipale rekeninge te betaal en dienste te lewer. Hy stel ‘n beleid voor waarvolgens staatsgeboue eerste gebruik sal word om koste te verminder:
# Rugby: Wêreldrugby kan Samoa volgens berigte skors nadat die land se regering alle erkenning en finansiële steun vir sy rugbyunie onttrek het. Die regering sê die beheerliggaam, Lakapi Samoa, is voldoende tyd gegee om interne kwessies en verdeeldheid ten opsigte van sy administrasie op te los. Volgens Samoan Observer het Wêreldrugby die Samoaanse regering 24 uur gegee om sy besluit te heroorweeg en ‘n voorgestelde hersiening te aanvaar, of hy loop die gevaar om vir vier jaar uit internasionale rugby geskors te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-738-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-90-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….