Nuus 18:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema win steun in vir ‘n mosie om die Israeliese ambassade te sluit
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku El Niño sal in die middel van die somer verskerp
# En, motorsport: Maak gereed vir F1-motors wat langs die Las Vegas Strip afblits
# Julius Malema sê Suid-Afrika moet weier om sy grondgebied met moordenaars te deel. Die EFF-leier het verwys na die Israeliese ambassade in Suid-Afrika. Die party het die mosie voor die Parlement gebring om steun van opposisiepartye te werf om die ambassade te sluit te midde van die voortslepende Israel-Palestina-konflik. Daar sal op ‘n latere datum gestem word oor die mosie wat vandag tydens ‘n oop vergadering van die Nasionale Vergadering gedebatteer is. Malema sê die ambassade behoort onmiddellik gesluit te word:
Speel klankgreep:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku die El Niño Suidelike Ossillering kan in die middel van die somer verskerp, met die waarskynlikheid van verhoogde hittegolwe. Daar heers tans ‘n matige El Niño-toestand en dit sal na verwagting tot in die vroeë herfs volgende jaar voortduur en ʼn invloed op weersomstandighede uitoefen. Dit lei gewoonlik tot warmer, droër toestande en dis onseker of dit tot bo-normale reënval in die noordooste sal lei, terwyl ondernormale reënval vir ander dele voorspel word. Die hoof wetenskaplike van die Weerdiens, Christien Engelbrecht, het die media by die Nasionale Persklub toegespreek en die publiek aangemoedig om maandelikse opdaterings te volg vir moontlike veranderinge in voorspellings vir reën:
Speel klankgreep:
# DebtBusters se skuldaanwyser vir die derde kwartaal dui aan daar is ‘n effense afname in die gemiddelde jaarlikse skuld-tot-inkomste-verhouding, van 115-persent in 2022 tot 108-persent vanjaar. DebtBusters se uitvoerende direkteur, Benay Sager, waarsku die skuld-tot-inkomste-verhouding is steeds hoog en onvolhoubaar vir diegene in die boonste-inkomstegroepe. Hy sê die gemiddelde rentekoers vir ‘n verband het van 8,3-persent in die vierde kwartaal in 2020 tot 12,4-persent in die derde kwartaal vanjaar gestyg. Boonop groei die aanvraag na skuldberading en aanlyn skuldbestuur steeds.
# Motorsport: Dis hierdie naweek ʼn splinternuwe stilhouplek op die Formule Een-kalender – die Las Vegas Grand Prix. Die middelpunt van die wedren is ʼn strook van twee-kilometer lank al langs die beroemde Las Vegas Strip, tuiste van al die vernaamste casino-hotelle. Die eerste oefening vind môreoggend, Suid-Afrikaanse tyd, plaas en die wedren om agt-uur Sondagoggend. Ferrari is in die wedloop om die Vervaardigerskampioenskap en die Spaanse jaer, Carlos Sainz, sê hy kan nie wag om die nuwe baan te toets nie:
Speel klankgreep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-696-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-972-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-55-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Kinderfonds van die Verenigde Nasies, UNICEF, doen ‘n beroep dat kinders voorrang moet kry en ingesluit word by die finale COP28-besluite, wat vanaf die 30ste van hierdie maand in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate plaasvind. UNICEF beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n deskundige dialoog oor kinders en klimaatsverandering, sowel as die insluiting van kinders en gelykheid tussen geslagte in die Globale bestekopname. Dit bepleit ook die insluiting van kinders en klimaatbestande noodsaaklike dienste in die finale besluit oor die Wêreld Doelwit vir Aanpassing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….