Nuus 18:00
BULLETIN 21 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump sê Europa sukkel terwyl die VSA floreer
# Die minister van Handel sit die Billike Energie-oordragstrategie uiteen by die Wêreld Ekonomiese Forum
# En, FNB verwag ‘n laer inflasiekoers terwyl brandstofpryse daal en die rand sterk bly
# Die Amerikaanse president, Donald Trump sê Amerika beleef rekord ekonomiese groei, met aandelemarkte die beste ooit, met historiese beleggingsvlakke en meer as ‘n miljoen mense wat nie meer van voedselondersteuning afhanklik is nie. Trump het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, Amerika geprys vir sy beleid oor belasting, energie, handel, deregulering vir vermeerdering van werksgeleenthede, staalproduksie en die bou van fabrieke. Hy het gewaarsku dat Europa in die verkeerde rigting beweeg:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika posisioneer hom in die middel van die wêreld se energie-oordrag met die benutting van kritieke minerale vir ‘n nywerheids-ekonomie. Tau het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, ‘n nuwe nywerheidsbeleid uiteengesit, gebaseer op ontkoling, diversifikasie en digitalisering. Hy sê die fokus verskuif vanaf rou mineraaluitvoere na beleggingsgedrewe vennootskappe wat plaaslike verwerking, vervaardiging en streekswaardekettings bevorder.
# FNB sê inflasie sal waarskynlik in die komende maande afneem namate brandstofpryse daal en die rand relatief sterk bly. Hoofinflasie het verlede maand effens gestyg tot 3,6-persent, hoofsaaklik weens hoër brandstof- en diensverwante koste, maar algehele prysdruk bly onder beheer. FNB-ekonoom Koketso Mano sê hierdie vooruitsig behoort die Suid-Afrikaanse Reserwebank in staat te stel om koerse vir eers onveranderd te hou, met moontlike verlagings later in die jaar:
# Die Kinderafdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad het hulde gebring aan gesinne ná die leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark, waarin 12 kinders dood is. Oupa Shumeni van die raad vra dringende aanspreeklikheid deur Leerdervervoer-verenigings en die Departement van Onderwys. Hy sê die raad eis veiligheidstoepassing, keuring van bestuurders en deursigtige ondersoeke. Hy sê verder kinders het die reg om veilig te reis en nalatigheid mag nie voortduur nie:
# Rugby: Die veelsydige agterspeler, Wandi Simelane het sy kontrak met die Stormers tot 2028 verleng. Hy het het sy professionele loopbaan by die Lions begin en vroeg in 2024 van die Bulle na Kaapstad verhuis. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê Simelane se spel het die afgelope twee jaar goed ontwikkel. Hy is beïndruk met die manier waarop die speler alle aspekte van sy spel verbeter het. Simelane sê Kaapstad is beslis die beste plek vir hom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-562-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-852-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 64-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….