Nuus 18:00
BULLETIN 19 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO vra vir die onmiddellike uitbreiding van NSFAS na privaat instellings
# Die EFF blameer roekelose bestuur en swak paaie vir die noodlottige ongeluk in Vanderbijlpark
# En, die Franschhoek-brand duur voort, met sterk wind en steil terrein wat brandbestryding belemmer
# AZAPO sê die toelatingskrisis tot hoër onderwys ontbloot die regering se mislukking om toeganklike onderwys aan swart studente te verskaf. Meer as 345-duisend leerders het in 2025 gekwalifiseer, maar slegs 235-duisend plekke is beskikbaar, dus word meer as 110-duisend leerders uitgeskakel. Die organisasie vra die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om befondsing na privaat instellings uit te brei en om dringend nuwe universiteite en tegniese en beroepsopleidingskolleges te bou. AZAPO vra ook verantwoordbaarheid van die regering oor sy verwaarlosing van arm en werkersklasstudente.
# Die EFF in Gauteng het sy diepe hartseer uitgespreek na die tragiese ongeluk in Vanderbijlpark, wat die lewens van minstens 13 leerders geëis en verskeie ander ernstig beseer gelaat het. Die party sê die botsing reg van voor tussen ‘n minibus en ‘n swaar vragmotor, beklemtoon voortdurende probleme met roekelose bestuur, swak padtoestande en ‘n gebrek aan verkeerspolisiëring, veral in Emfuleni. Nkululeko Dunga van die EFF het die provinsiale regering versoek om die veiligheid van leerdervervoer te verbeter.
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê die brand bo Franschhoek woed steeds voort, met sterk wind, steil terrein en digte plantegroei wat brandbestryding uiters moeilik maak. Brandspanne, ondersteun deur CapeNature en die Wynland Brandbeskermingsvereniging, sal deur die nag werk, met helikopters wat hulp sal verleen waar toestande dit toelaat. Jo-Anne Otto van die munisipaliteit het inwoners aangeraai om vensters en deure toe te hou weens die digte rook:
# Die Japannese eerste minister, Sanae Takaichi, beplan om die Parlement Vrydag te ontbind en ‘n nasionale verkiesing op 8 Februarie af te kondig. Sy soek steun vir verhoogde besteding, belastingverlagings en ‘n nuwe veiligheidstrategie om die opbou van verdedigingstelsels te versnel. Takaichi wil hê die publiek moet besluit of hulle haar as die land se leier vertrou. Dit sal haar eerste verkiesingstoets wees sedert sy in Oktober die land se eerste vroue- eerste minister geword het. Dit sal aandui hoe kiesers voel oor hoër besteding te midde van groeiende kommer oor stygende lewenskoste.
# Krieket: Die beseerde Pat Cummins, Josh Hazlewood en Tim David gaan nie deelneem aan Australië se reeks van drie T20s teen Pakistan vanaf die 29ste nie. Die ervare Mitchell Marsh sal die span aanvoer, wat Travis Head, Cameron Green en Josh Inglis insluit. Mahli Beardman en Jack Edwards, wat deurbraakvertonings in die Big Bash gelewer het, is die twee nuwelinge in die groep van 17 spelers. Die reeks is Australië se laaste voorbereiding vir die komende T20-Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-818-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-664-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….