Nuus 18:00
BULLETIN 13 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Department van Basiese Onderwys moedig die herhaling van grade aan om uitslae te verbeter
# Die Vryheidsfront Plus vra vir ‘n dringende afkondiging van ‘n ramptoestand om die beesvleisbedryf te beskerm
# En, daar is ‘n besliste Suid-Afrikaanse geur in Nederland se krieketspan vir die Wêreldbeker
# Die direkteur-generaal van die Departement van Basiese Onderwys, Mathanzima Mweli, het provinsies aangemoedig om leerders toe te laat om grade te herhaal, en sê hulle presteer beter as deeltydse kandidate. Mweli het tydens ‘n viering van toppresteerders verwys na ‘n afname van ongeveer 40-duisend deeltydse kandidate en sê die stelsel bly bestendig. Hy voeg by die prestasie onder mans het effens afgeneem, maar vroue-kandidate het ‘n klein verbetering getoon, wat die daling teenwerk:
In verdere kommentaar oor die matriekuitslae, verwerp die Azanian People’s Organisation, AZAPO, pogings om die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae as ‘n sukses uit te beeld en sê dit ontbloot ‘n ongelyke onderwysstelsel waar swart leerders in die steek gelaat word. Die organisasie sê Suid-Afrika bly vasgevang in ‘n tweeledige stelsel wat ongelykheid herhaal en lewensmoontlikhede beperk. AZAPO het die 30-persent-slaagsyfer, die onderprestasie in sleutelvakke en die hoë leerderuitvalsyfer gekritiseer. Hy doen ‘n beroep op radikale hulpbronherverdeling, verbeterde grondfase-onderrig en ‘n verenigde, gedekoloniseerde openbare onderwysstelsel.
# Die Vryheidsfront Plus vra vir die afkondiging van ‘n ramptoestand in reaksie op die bek-en-klouseer-uitbreking. Die party waarsku dat die siekte nou van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap na groot voerkrale versprei het, wat die beesvleisbedryf en boere se lewensbestaan bedreig. Wynand Boshoff van die VF Plus sê ‘n amptelike ramptoestand sal meer befondsing vir entstowwe, beter beheer oor dierebewegings en vinniger optrede moontlik maak om die uitbreking te beperk:
# Die appèlverhoor van die regse Franse politikus, Marine le Pen, begin vandag teen ‘n uitspraak wat haar vyf jaar verbied om vir ‘n openbare amp te staan. Sy is verlede jaar skuldig bevind aan die verduistering van Europese Unie-fondse. Indien die verbod gehandhaaf word, sal Le Pen nie in volgende jaar se presidentsverkiesing kan meeding nie. Sy ontken enige oortreding en is hoopvol oor die uitspraak. Die president van haar National Rally-party, Jordan Bardella, sê dis kommerwekkend vir demokrasie om Le Pen van die verkiesing te verbied.
# Krieket: Nederland se groep vir die T20 Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka het ‘n baie duidelike Suid-Afrikaanse geur. Onder die Suid-Afrikaans-gebore spelers is die 41-jarige veteraan Roelof van der Merwe, wat die Proteas tussen 2009 en 2011 verteenwoordig het, Kyle Klein, Colin Ackermann en Michael Levitt. Hoofafrigter Ryan Cook en hulpafrigter Heino Kuhn is ook van Mzansi. Nederland is in Groep A saam met Namibië, Pakistan, Amerika en mede-gasheerland Indië. Die toernooi begin op 7 Februarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-069-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-616-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….