Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party skors Peter de Villiers oor klagte van seksuele wangedrag
# Die regering loop die sperdatum mis om sleutelgebiede vry te stel van beurtkrag
# En, rugby: Frankryk en Ierland skop vanjaar se Sesnasies in Marseille af
# Die GOOD Party het Peter de Villiers uit alle party-bedrywighede geskors nadat ‘n lid hom van seksuele wangedrag beskuldig het. Tugstappe sal volg om vas te stel of die party se grondwet oortree is. Woordvoerder Janke Tolmay sê die skorsing van die gewese Springbok-hoofafrigter gee nie te kenne hy is skuldig nie, maar onderstreep die erns van die beskuldigings teen hom:
# Die regering het sy sperdatum van 31 Januarie met betrekking tot beurtkrag in sleutelgebiede misgeloop. Die Gautengse Hooggeregshof het vroeër beslis beurtkrag maak inbreuk op verskeie regte wat in die Grondwet verskans is. Die hofbevel het verklaar polisiestasies, skole, klinieke en hospitale moet teen einde Januarie beurtkragvry wees. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het die regering se oorweging bekend gemaak om ‘n wettige vertolking van die bevel aan te vra. Advokaat Siphile Buthelezi het aan SABC News gesê geen appèl is namens die staat aangeteken nie:
# Die Overstrand-munisipaliteit het bevestig sy brandbestrydingspanne is steeds in die omgewing van Pringlebaai te midde van vrese vir moontlike opvlamming, nadat ‘n brand Pringlebaai en Bettysbaai die afgelope drie dae voortdurend bedreig het. Volgens die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, is daar tans egter geen aktiewe brandbestrydingspogings nie, nadat die brand suksesvol bedwing is:
Wynprodusente het intussen diepe kommer uitgespreek oor die potensiële uitwerking van voortslepende brande op die oesseisoen in die Wes-Kaap. Al is onlangse ontruimingsbevele opgehef, bly boere bekommerd oor die verwoestende uitwerking wat brande op die streek se belangrike wynbedryf kan hê. Suid-Afrikaanse wynuitvoere het in 2023 met 17-persent gedaal, tot net meer as 300-miljoen liter, en die vrees bestaan brande sal bydra tot die bestaande logistieke uitdagings by hawens. Die Kaapse Wynland- en Overstrand-munisipale gebiede word die swaarste getref.
# Rugby: Vanjaar se Sesnasies skop vanaand in Marseille af wanneer die twee bulspanne in die reeks, Frankryk en Ierland, mekaar in die Orange Vélodrome die stryd aansê. Ierland het Frankryk verlede jaar as kampioen onttroon en die twee spanne het uiteindelik gelyk soos dié twee spanne om op die Wêreldbekertoernooi te klop. Dinge het egter nie volgens plan verloop nie en vanaand se kragmeting is die eerste nadat hulle albei pynlik vroeg uitgeskakel is. Môre speel Italië teen Engeland in Rome en Wallis en Skotland speel in Cardiff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-645-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….