Nuus 18:00
BULLETIN 9 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umalusi bevestig die integriteit van die Departement van Basiese Onderwys se matriek-eksamen
# Die Inkatha Vryheidsparty prys premier Ntuli vir die ondersteuning van Mkhwanazi
# En, Rusland tref Oekraïne met ‘n Oreshnik-missiel
# Die raad vir gehalte-versekering, Umalusi, sê geen ingrypende ongerymdhede is gevind wat die geloofwaardigheid van die Departement van Basiese Onderwys se matriek-eksamen in gedrang bring nie. Voorsitter Yunus Ballim sê meer as 903-duisend kandidate het by byna sewe-duisend sentrums geskryf. Van die 68 vakke wat voorgelê is vir standaardisering is 56 aanvaar, wat neerkom op 82-persent en die stelsel se bestendigheid weerspieël. Ballim het bevestig uitslae moet teruggehou word in die geval van ongerymdhede:
# Die Inkatha Vryheidsparty in die KwaZulu-Natal wetgewer loof Premier Thami Ntuli vir die ondersteuning vir Nhlanhla Mkhwanazi om as provinsiale polisiekommissaris aan te bly. Die nasionale voorsitter van die party, Blessed Gwala, prys Mkhwanazi se moed, integriteit en praktiese benadering in die bekamping van misdaad. Hy sê die IVP glo dat die behoud van sulke leierskap noodsaaklik is vir openbare veiligheid. Hy versoek alle belanghebbendes om kontinuïteit, voldoende hulpbronne en gemeenskapsdeelname te ondersteun om polisiëring te versterk en vertroue te herstel:
# Die direkteur van Working on Fire, Trevor Abrahams sê nooddienste bly op hoë gereedheidsgrondslag regoor die Oos- en Wes-Kaap terwyl veldbrande steeds woed. Hy waarsku dat warm en winderige toestande ‘n hoërisiko-brandomgewing skep en waarsku teen oop vure. Meer gemeenskappe word verwag om te ontruim nadat inwoners in die informele nedersetting Die Kop in Stanford beveel is om te ontruim. Hy bevestig daar was tot dusver geen lewensverlies nie:
# Rusland het die Oreshnik ballistiese missiel gebruik as deel van ‘n reuse-aanval oornag op Oekraïne, waarin vier mense dood en 25 beseer is. Dit is slegs die tweede keer dat Moskou die Oreshnik gebruik. President Volodymyr Zelensky sê 13 ballistiese missiele asook 22 kruismissiele en 242 hommeltuie het ook oornag energie-aanlegte en burgerlike infrastruktuur geteiken. Rusland se ministerie van Verdediging sê die aanval was in reaksie op ‘n Oekraïnse hommeltuig-aanval verlede maand, geteiken op president Vladimir Putin se woning, wat Kiëf ontken hy uitgevoer het.
# Tennis: Nick Kyrgios gaan nie aan die enkelspel in sy tuis Grand Slam-toernooi, die Australiese Ope, deelneem nie. Hy gaan op die dubbelspel fokus terwyl hy van beserings herstel. Die 30-jarige erken hy is nog nie gereed vir die eise van vyfstel-wedstryde nie. Kyrgios sou na verwagting een van die drie oorblywende promotorskeuses wees, maar dit het gegaan aan die driemalige Grand Slam-wenner, Stanislas Wawrinka van Switserland, en die Australiërs Jordan Thompson en Chris O’Connell. Kyrgios gaan saam met sy landgenoot Thanasi Kokkinakis aan die dubbelspel deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-494-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….