Nuus 18:00
BULLETIN 8 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa beklemtoon transformasie is ‘n proses wat oor geslagte heen duur
# Rise Mzansi rig ‘n waarskuwing oor 25-miljoen-rand wat in minder as twee jaar aan geskorste polisiebeamptes betaal is
# En, AfriForum verwelkom die hofuitspraak wat die rybewyskaart-tenders onregmatig verklaar
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die transformasie van Suid-Afrika sou nooit ‘n een-dag-gebeurtenis wees nie, dit is ‘n proses wat oor geslagte heen duur. Ramaphosa het tydens die ANC se 114de verjaardagvieringe by die Moses en Rebecca Kotane-kransleggingseremonie in Noordwes gesê 347 jaar van kolonialisme en apartheid het die land se vooruitsigte vernietig. Hy erken armoede en werkloosheid duur steeds voort, maar sê daar is vordering, veral in onderwys, met uitgebreide toegang en verhoogde befondsing:
# Rise Mzansi sê salarisse van meer as 25-miljoen-rand is in minder as twee jaar aan 233 geskorste polisiebeamptes betaal. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het in antwoord op ‘n parlementêre vraag onthul daar is ernstige aanklagte teen van die geskorste beamptes, insluitend verkragting, korrupsie, afpersing, roof en kaping. Makashule Gana van die party wil duidelikheid hê oor hoeveel sake daartoe gelei het dat beamptes ontslaan is, en waarsku twyfelagtige polisiebeamptes stel openbare veiligheid in gevaar:
# AfriForum het die Departement van Vervoer versoek om ‘n nuwe, deursigtige tenderproses vir rybewyskaarte in te stel. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria beslis het die aanstelling van die Franse onderneming IDEMIA om die kaarte te druk onregmatig en ongeldig is. Die hofuitspraak het gevolg op kommer van die Ouditeur-Generaal oor onreëlmatighede in die bod-evalueringsproses. Louis Boshoff van AfriForum sê die departement moet aanspreeklik gehou word vir die aanstelling van ‘n gebrekkige evalueringskomitee:
# Africa4Palestine veroordeel die VSA se optrede in Venezuela en sê Washington beoog om op die land se hulpbronne beslag te lê. Die aktivis, Ben Coetzee, het buite die Amerikaanse ambassade in Pretoria tydens ‘n betoging van die drukgroep vir die vrylating van die Venezolaanse president, Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, aangevoer die VSA is bekommerd oor Chinese invloed in Suid-Amerika. Hy doen ‘n beroep vir internasionale orde en waarsku oor internasionale gevolge as sulke optrede nie teengestaan word nie:
# Krieket: Harry Brook bly aan as kaptein van Engeland se witbal-spanne ondanks ‘n finale waarskuwing vir ‘n voorval by ‘n Nieu-Seelandse nagklub verlede jaar. Hy is beboet vir ‘n onderonsie met ‘n uitsmyter in Wellington, skynbaar nadat hy toegang geweier is. Brook het verskoning gevra. Dit voorval is onthul nadat Australië die reeks om die As 4-1 beklink het. Die kultuur in die besoekers se kamp is reeds onder die soeklig nadat spelers gewaar is waar hulle erg kuier tussen die tweede en die derde toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-683-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-424-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….