Nuus 18:00
BULLETIN 7 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu veroordeel regse populisme, vigilante-optrede en xenofobie in SA
# Corruption Watch is bekommerd oor die proses rondom die aanstelling van Andy Mothibi
# En, ‘n studie waarsku kunsmatige intelligensie verhoog kuberveiligheidsbedreigings in Afrika
# SAFTU sê die land se reuse-werkloosheid-krisis, armoede, ongelykheid, nywerheidsoptrede, openbare dienste wat ineenstort en korrupsie word nie deur migrante veroorsaak nie. Die vakbond-federasie sê dis as gevolg van beleidsmislukkings, besuinigingsmaatreëls, elite-verryking en staatsonbevoegdheid. Woordvoerder Asive Dyani sê hulle het herhaaldelik staatgemaak op Statistieke Suid-Afrika om die vals bewering te weerlê dat buitelanders Suid-Afrikaners se werk afneem:
# Corruption Watch het sy oproep herhaal vir groter deursigtigheid en openbare deelname met die aanstelling van leiers van belangrike teen-korrupsie-instellings. Die organisasie het die aanstelling van advokaat Andy Mothibi as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging verwelkom en verwys na sy ervaring as hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid. Lebogang Ramafoko van Corruption Watch is egter bekommerd dat Mothibi nie deel was van die formele onderhoudsproses nie:
Die IVP het ook die aanstelling van Andy Mothibi as die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging verwelkom. Fanele Mhlongo van die party sê Mothibi word erken vir sy integriteit, onafhanklikheid en ervaring in die bekamping van korrupsie sowel as sy leierskap in die Spesiale Ondersoekeenheid, wat alles openbare vertroue sal inboesem. Hy sê die IVP loof die raadgewende paneel se beginselvaste beoordeling en vra die ondersteuning van pogings om die NVG se geloofwaardigheid te herbou en geregtigheid te handhaaf.
# ‘n Verslag deur die Boston Consulting Group waarsku kunsmatige intelligensie verhoog kuberveiligheidsgevare in Afrika. Bykans 60-persent van ondernemings in Afrika sê hulle het die afgelope jaar KI-aangedrewe kuberaanvalle ervaar, maar slegs die helfte prioritiseer KI-gedrewe verdedigingstelsels. Die studie beklemtoon vaardigheidstekorte, beperkte begrotings en verouderde instrumente as die groot swakhede. Die groep waarsku KI-gedrewe bedrog, diep vervalsings en aanpasbare virusse versnel bedreigings en vra leiers om dringend KI-kuberveiligheidstrategieë te versterk.
# Krieket: Die tweede beste internasionale T20-bouler, Jacob Duffy, gaan in sy eerste senior Wêreldbekertoernooi speel nadat hy ingesluit is in Nieu-Seeland se groep van 15 vir die T20-skouspel in Indië en Sri Lanka. Die groep word deur Mitch Santner aangevoer. Dit sluit Adam Milne in wat in Julie laas vir die Swartpette gespeel het, die veelsydige James Neesham en die draaibouler Ish Sodhi. Nieu-Seeland is in Groep D saam met Suid-Afrika, Afganistan, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate. Hulle eerste wedstryd teen Afganistan is op 8 Februarie in Chennai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-775-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-452-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….