Nuus 18:00
BULLETIN 17 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Standard Bank sê ligte prysdruk in November bied hoop vir die Suid-Afrikaanse ekonomie
# Die Raad vir die Bou-omgewing beveel maatreëls aan om te verhoed dat geboue intuimel
# En, binnelandse reise bly gewild terwyl Kaapstad begin met ‘n wêreldwye toerismeveldtog
# Standard Bank sê Suid-Afrika se inflasiesyfer vir November is bemoedigend vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Hooflyn-inflasie het effens afgeneem tot 3,5-persent teenoor 3,6-persent in Oktober terwyl kospryse bestendig gebly het. Woordvoerder Elna Moolman sê die ligter prysdruk en daling in inflasieverwagtinge dui op ‘n bestendiger ekonomiese vooruitsig voor die monetêre beleidskomitee se volgende vergadering:
# Die Raad vir die Bou-omgewing het voorkomende stappe aanbeveel nadat die Redcliff-tempel in eThekwini, KwaZula-Natal, ingetuimel het. Dit behels die identifisering van onwettige bouwerk, die vereiste dat verskaffers van klaar-gemengde betonmengsel munisipaliteite moet inlig oor groot aflewerings, en openbare veldtogte oor bouplan-goedkeuring en -voldoening. Die minister van Openbare Ondernemings, Dean Macpherson, sê president Cyril Ramaphosa steun die voorstel ten volle, en wys op die belangrikheid van gekoördineerde oorsig om struktuur-tekortkominge te verhoed:
# Kaapstad Toerisme se binnelandse reisagent, Briony Brookes, berig ongeveer 54-persent van Suid-Afrikaners beplan ‘n wegbreek hierdie maand. Die Wes-Kaap lok 48-persent van die reisigers, met 80-persent wat Kaapstad kies oor sy sonskyn, besienswaardighede en somerervarings. Brookes sê begrotingsvriendelike keuses soos selfsorg-verblyf, verblyf by familie en sloertoere is gewild. Sy sê die stad het ook die wêreldwye This Is Cape Town-veldtog van stapel gestuur om internasionale besoekers te lok:
# Die Louvre-museum in Parys, Frankryk, het vandag gedeeltelik heropen al het personeellede eenparig gestem om voort te gaan met die staking wat Maandag begin het oor betaling en werkstoestande. Dit beteken besoekers sal weer meesterstukke kan sien. Dit volg op die waaghalsige juweel-diefstal in Oktober en onlangse infrastruktuur-probleme, insluit ‘n waterlekkasie wat antieke boeke beskadig het. Die insidente het gapende sekuriteitsprobleme onthul, asook die 18de-eeuse kompleks se agteruitgang. Byna nege-miljoen mense het die museum in 2023 besoek, sowat 30-duisend per dag.
# Sokker: Die legendariese Marks Maponyane glo Bafana Bafana is goed voorbereid vir die Afrikabekertoernooi wanneer die span vandag na Marokko vertrek. Hy het aan SABC News gesê afrigter Hugo Broos het gehalte-spelers gekies. Suid-Afrika pak Angola, Egipte en Zimbabwe in Groep B. Maponyane moedig Suid-Afrikaners aan om die span te ondersteun wanneer Bafana Maandag in sy eerste wedstryd teen Angola te staan kom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-621-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….