Nuus 18:00
BULLETIN 11 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema waarsku die EFF sal enige besuinigingsmaatreëls of regressiewe belasting in 2026 begrotingsproses in die parlement teenstaan
# Hermione Cronje waarsku sy sal nie by die NVG aanbly as sy nie daadwerklike veranderinge kan aanbring nie
# En, die Gautengse Onderwysdepartement eis spoedige optrede na ongerymdhede in die matriek-eksamen
# Die EFF sê hulle sal enige besuinigingsmaatreëls en regressiewe belasting in volgende jaar se begrotingsproses sterk teenstaan. Die EFF-leier, Julius Malema het tydens ‘n nuuskonferensie gesê die party sal veg teen begrotingsbesnoeiings, die verhoging van brandstofheffings en enige belastingvoorstelle wat ‘n swaarder las op die armes en werkersklasgesinne plaas. Hy sê die EFF sal die parlement gebruik om beleide te keer wat ekonomiese groei belemmer of werkloosheid ignoreer:
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat, Hermione Cronje, sê kort nadat sy in 2022 die Nasionale Vervolgingsgesag verlaat het, is twee klagtes teen haar ingedien terwyl sy by Open Secrets was. ‘n Klagte is ingedien deur die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan, en die ander deur die huidige hoof van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging, Shamila Batohi. Cronje sê sy sal nie by die NVG bly as sy nie daadwerklike veranderinge kan aanbring nie:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het matriekeksamen-nasieners geloof wat ongerymdhede opgemerk het in verskeie antwoordstelle by sewe skole in Pretoria. Woordvoerder Steve Mabona sê voorlopige ondersoeke het bevind die vraestelle is binne die Departement van Basiese Onderwys uitgelek, en twee amptenare is geskors omdat hulle na bewering die nasien-riglyne met ‘n USB-toestel uitgesmokkel het. Hy sê nasieners is daartoe verbind om die eksamen se integriteit te beskerm:
# Minstens 34 mense, meestal pasiënte, is dood en tientalle gewond in ‘n militêre lugaanval op ‘n hospitaal in Mianmar. Die inrigting is in ‘n gebied wat beheer word deur een van die sterkste etniese magte wat teen die land se militêre regime veg, die Arakan Weermag. Duisende mense is reeds dood en miljoene ontheem sedert die Weermag in 2021 in ‘n staatsgreep beheer oorgeneem het, waarna ‘n burgerloorlog uitgebreek het. Die Weermag het die afgelope tyd lugaanvalle versterk om grondgebied van etniese magte terug te neem.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, steun diegene wat die deelname van transgender-atlete aan vrouesport bevraagteken en sê dit sou onregverdig wees vir vroue om teen biologiese mans te speel in die beroepspel. Die WTA-toer se geslagsdeelnamebeleid laat transgender-vroue toe om deel te neem as hulle hul geslag vir minstens vier jaar as vroulik verklaar het, verlaagde testosteroonvlakke het en instem tot toetsprosedures. Sabalenka sê hulle het steeds ‘n groot voordeel bo vroue en dit is nie regverdig vir vroue om teen biologiese mans te speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-102-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-227-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….