Nuus 18:00
BULLETIN 8 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bepleit strategiese duidelikheid by die ANC se Nasionale Algemene Raad
# Die Verbruikerskommissie kondig grootskaalse herroepings aan vir Jeep en Kia voertuie
# En, die brand in die Hexriviervallei bo De Doorns is ten volle onder beheer
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Algemene Raad sal ‘n pad uitstippel om Suid-Afrika se uitdagings aan te pak en die toekoms van die ANC te bepaal. Ramaphosa het in Boksburg, Ekurhuleni, gepraat en gesê die aannames van die Nasionale Demokratiese Revolusie is meer ingewikkeld, en vereis ideologiese duidelikheid, dissipline en taktiese behendigheid. Hy vra lede om verskuiwende magte te beoordeel en die krisisse waarmee Suid-Afrikaners worstel te ondersoek:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het grootskaalse voertuigherroepings aangekondig wat Jeep- en Kia-modelle raak. Stellantis Suid-Afrika herroep 323 Jeep Wranglers wat tussen 2016 en 2018 verkoop is weens stof wat die klokveer binnedring, wat kan veroorsaak dat die bestuurderslugsak nie in ‘n ongeluk ontplooi nie. Phetho Ntaba van die kommissie sê Kia Suid-Afrika het ook ‘n herroeping uitgereik vir 18-duisend-600 voertuie, insluitend die Sportage-, Sorento-, Optima-, Cerato- en Soul-modelle wat tussen 2009 en 2015 verkoop is:
# Brandweerdienste van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit het bevestig die brand op die berg bokant De Doorns in die Hexriviervallei is ten volle onder beheer. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, het inwoners en besoekers gevra om versigtig te bly terwyl brandweerdienste hul werk voortsit:
# Die Indonesiese eiland, Sumatra, het meer as 50-miljard-rand nodig vir heropbou- en herstelfondse na die onlangse dodelike vloede. Die dodetal na die oorstromings en grondverskuiwings weens ‘n sikloon het 950 bereik, met 274 mense wat steeds vermis word. Nagenoeg 200 mense het in die suide van Thailand en Maleisië is ook dood. Indonesië se rampverligtingsagentskap sê die herstelfondse mag moontlik verhoog namate die agentskap voortgaan met sy skadebepaling. Die heropbouproses sal binnekort in Noord- en Wes-Sumatra begin, wat relatief goed herstel het.
# Tennis: Die nasionale klubkampioenskap sal volgende jaar terugkeer na ‘n uiters suksesvolle eerste kompetisie. Meer as 450 klubs het vanjaar deelgeneem. Die kampioenskap sal in Februarie begin met distrikskompetisies in Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap. Dit sal gevolg word deur nege provinsiale toernooie, met die wenners wat deurdring na die nasionale eindstryd, wat in September by Sun City in Noordwes plaasvind. Elke klubspan sal bestaan uit twee mans en twee vroue, wat mansdubbelspel, vrouedubbelspel en gemengde dubbelspel sal speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-596-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-208-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….