Nuus 18:00
BULLETIN 4 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitspraak oor die Zuma en Thales appèl word in Januarie gelewer
# Die DA sê hy sal taalregte in skole verdedig
# En, die Gautengse Onderwysdepartement sê die matriekeksamen het vlot verloop in meer as een-duisend sentrums
# # Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, sal op 23 Januarie uitspraak lewer oor voormalige president Jacob Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales se poging om hul wapentransaksieklagte te laat vaar. Zuma en Thales betwis ‘n uitspraak wat hul aansoek om die korrupsiesaak te laat vaar, van die hand gewys het. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, voer aan die dood van sleutelgetuies in die langdurige wapentransaksie-korrupsiesaak van 1999 dit moeilik maak om deurslaggewende bewyse aan te bied:
# Die DA sê hy is ongelukkig dat daar ‘n doelbewuste verdraaiing was in beriggewing dat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, voormalige Model C-skole teiken. Dit gaan oor taalbeleide in skole. Jan de Villiers van die DA sê hulle ondersteun Gwarube se bevordering van moedertaal-gebaseerde tweetalige onderwys. Hy voeg by dat die party ook die regte van skoolbeheerliggame, gelei deur ouers, ten sterkste verdedig om taalbeleid in ooreenstemming met die wet te bepaal:
# Die Gautengse Departement van Onderwys sê vanjaar se matriekeksamen het vlot verloop in meer as een-duisend sentrums in die provinsie. Die departement sê verrigtinge by alle eksamenlokale het sonder noemenswaardige ontwrigtings voortgegaan, en veiligheidsmaatreëls is versterk om die eksamen se integriteit te beskerm. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het op ‘n nuuskonferensie gesê kandidate wat siek was of nie sekere vraestelle kon voltooi nie, sal ondersteun word en kan dit volgende jaar in Junie herskryf:
# Die Russiese president Vladimir Putin gewees het volgens ‘n Britse openbare ondersoek waarskynlik opdrag gegee vir die Novichok-senugif-aanval op die Russiese dubbelagent Sergei Skripal in 2018. Skripal en sy dogter Yulia is bewusteloos op ‘n bank in Salisbury gevind nadat Novichok op die handvatsel van die voordeur van sy huis aangebring is. Die Skripals en ‘n polisiebeampte was in ‘n kritiese toestand maar het herstel. ‘n Voormalige regter van die Britse Hooggeregshof, Anthony Hughes, sê daar is oorweldigende bewyse dit was ‘n Russiese staatsaanval. Rusland het nog altyd enige betrokkenheid ontken en die beskuldigings as anti-Russiese propaganda afgemaak.
# Sokker: Engeland se voormalige kaptein en verdediger van Manchester United, Rio Ferdinand, sal môre se loting vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Washington behartig saam met die bekroonde uitsaaier Samantha Johnson. Die sewemalige Super Bowl-kampioen Tom Brady, die viermalige NBA-kampioen Shaquille O’Neal, die sewemalige Major League-bofbalster Aaron Judge, en die Nasionale Hokkieliga se heldesaal-ster, Wayne Gretzky, sal met die trekking help. Twee-en-veertig lande, insluitend Suid-Afrika, sal verteenwoordig word. Die ander ses deelnemende spanne moet nog bepaal word en sal eers in Maart bekend wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-678-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….