Nuus 18:00
BULLETIN 1 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verleng die sperdatum vir die voltooiing van die Khampepe-kommissie se verslag tot Julie 2026
# Paul Mashatile beklemtoon vordering met die bekamping van TB en MIV op Wêreld-Vigsdag
# En, die SA Weerdiens waarsku teen hewige storms
# President Cyril Ramaphosa het die sperdatum vir die Khampepe-kommissie verleng om sy finale verslag in Julie volgende jaar in te dien. Die geregtelike ondersoek, wat beweerde pogings ondersoek om Waarheids- en Versoeningskommissie-sake te keer, het vertragings ondervind weens ‘n laat begin, uitstaande dokumente en die beplande Desember-Januarie-onderbreking. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die ekstra tyd sal die kommissie toelaat om sy werk behoorlik te voltooi en ‘n volledige verslag van sy bevindinge te gee:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om behandelingsuitkomste te verbeter, veral vir kinders wat nuwer TB-medikasie ontvang, ondermeer ‘n korter vier maande lange kursus. Mashatile het gepraat tydens die herdenking van Wêreldvigsdag by die Ga-Masemola-stadion, in die Sekhukhune-distrik in Limpopo, en verwys na die bekendstelling van antiretrovirale middels 20 jaar gelede, wat MIV-sterftes en oordrag dramaties verminder het. Hy het ook verwys na Suid-Afrika se rol saam met Brittanje, tydens die Global Fund Aid Replenishment beraad:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen hewige donderstorms in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga, wat aangedryf word deur hoë temperature, baie vog en onstabiele atmosferiese toestande. Die storms het reeds swaar reën, skielike oorstromings, skadelike wind en groot haelkorrels veroorsaak, veral aan die Oos-Rand en in Pretoria-Noord, waar bome ook omgewaai het. Skade is aan eiendom en voertuie aangerig en die verkeer is ontwrig. ‘n Weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, raai inwoners aan om voorsorgmaatreëls te tref terwyl gure weer steeds in die streek woed:
# Pous Leo vergader vandag met leiers van Libanon se uiteenlopende godsdienstige sektes en Libanese na verwagting aanspoor om nie hul land te verlaat nie, ondanks jare van konflik, politieke verlamming en ekonomiese krisisse. Hy het die Katolieke gemeenskap besoek voordat hy lede van die Sunni Moslem-, Sjiïtiese en Druze-gemeenskappe ontmoet het, sowel as migrante-werkers en ander Christene. Die pous het leiers gevra om vol te hou met vredespogings na verlede jaar se verwoestende oorlog tussen Israel en die Irans-gesteunde Hizbollah, en ook in die voortgesette Israelse aanvalle.
# Krieket: Nieu-Seeland word as die gunsteling beskou vir die toetsreeks teen die Windies wat môre in Christchurch begin. Dit is die Swart Pette se eerste wedstryd in die nuwe wêreldtoetskampioenskapsiklus, wat in 2027 eindig. Die veteraan-kolwer Kane Williamson het ná ‘n jaar na die toetsarena teruggekeer om die gashere se span versterk. Hy het ‘n gedugte rekord teen die eilandbewoners, met ‘n indrukwekkende gemiddelde van 51,33 in 10 beurte. Die kaptein van die Windies, Roston Chase, sê die enigste manier om Williamson te beheer, is om geduldig te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-246-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-245-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….