Nuus 18:00
BULLETIN 19 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die daling in die inflasiesyfers terwyl huishoudings steeds finansiële druk ervaar
# Fadiel Adams beskuldig IDAC-advokaat Drushantha Ramsamy sy het vir die Madlanga-kommissie gelieg
# En, Suid-Korea verkort sy militêre oefeninge met die VSA
# Die regering sê hy sal voortgaan om voedsel- en energiesekerheid te versterk, werk te skep en lewenskoste te verlaag. Dit volg op die jongste inflasiesyfers wat verlede maand ‘n daling in verbruikersinflasie tot 4,3-persent vanaf vyf persent in Junie getoon het. Die adjunk- regeringswoordvoerder William Baloyi sê die daling bied ‘n mate van verligting aan huishoudings, maar baie Suid-Afrikaners is steeds onder finansiële druk:
# Cosatu verwelkom die die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie se Arbeidshof-oorwinning in die Mangaung-korrektiewe sentrum-saak nadat die hof ‘n aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het. Zanele Sabela van Cosatu sê die uitspraak is belangrik want dit versterk die beskerming van werkers kragtens Artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Sy sê werknemers kan nie hul werk of regte verloor wanneer bedrywighede of dienste van eienaar verander nie:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het staatsadvokaat Drushantha Ramsamy van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie daarvan beskuldig dat sy vir die Madlanga-kommissie oor hom gelieg het. In getuienis voor die kommissie het Adams beweer Ramsamy se weergawe van hul vergadering is onakkuraat. Hy het gevra ‘n opname van die vergadering moet gedagvaar en gespeel word. Hy sê die opname sal sy weergawe ondersteun en verduidelik wat bespreek is:
# Suid-Korea se ministerie van Verdediging het aangekondig dat sy jaarlikse gesamentlike militêre oefeninge met die VSA op versoek van Washington met ses dae verkort word. Seoel het gesê die “tydperk en omvang” van die 2026 Ulchi Freedom Shield-oefening is aangepas na ‘n voorstel deur die VSA. Die oefening sal nou op Vrydag afsluit en nie op 27 Augustus soos beplan nie. Dit volg nadat Donald Trump planne aangekondig het om oefeninge met Suid-Korea te verkort, en het verwys na sy “baie goeie” verhouding met Noord-Korea se Kim Jong Un.
# Rugby: Die voormalige Wallabie- en Puma-afrigter Michael Cheika gaan van die volgende Superrugby-seisoen by die Waratahs aansluit. Die 59-jarige Australiër het sy nasionale span van 2014 tot 2019 afgerig en Argentinië van 2022 tot ’23, en het spanne soos Leinster, Stade Francais en Leicester Tigers afgerig. Cheika sê sy tuisspan het nog altyd ‘n spesiale plek ingeneem, en hy is bly om terug te keer voor ‘n belangrike jaar vir die Waratahs en vir Australië, wat die Wêreldbekertoernooi gaan aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-463-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….