Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie veroordeel pogings om die Groblersdalse Landdroshof met geweld binne te gaan
# Die kiesersrol oorskry die eerste keer die 27-miljoen-kerf
# En, Olimpiese Spele: Britte gaan na Parys stroom vir 2024 se Spele
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, onderneem om daadwerklik op te tree na pogings om die Landdroshof op Groblersdal met geweld binne te dring. Hy veroordeel ook ten sterkste die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag. Die borgtogverhoor van ‘n boer, Piet Groenewald, en sy stiefseun, Stephan Greef, is tot Woensdag uitgestel. Lamola het buite die hof inwoners herinner die ongevraagde vertoon van die ou vlag is ‘n oortreding van die wet:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het sy gereedheid bevestig vir die naweek se kiesersregistrasienaweek. Drie-en-twintig-duisend-303 registrasie-stasies sal oop wees van agtuur die oggend tot vyfuur die middag vir burgers om te registreer of hul besonderhede na te gaan. Die kieserslys het 27-miljoen oortref, wat ‘n geskiedkundige mylpaal is. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê die aanlyn registrasieplatform het ‘n sleutelrol gespeel en het byna 200-duisend nuwe registrasies aangeteken. Volgens Mamabolo is huurooreenkomste vir permanente stemlokale onderteken:
# Transnet Haweterminale het bevestig die Kaapstadse Houerterminaal het die afgelope week ‘n gedenkwaardige mylpaal bereik met ʼn hoё produktiwiteitskoers van 17 verskuiwings per uur gedurende ʼn enkele skof. Die waarnemende uitvoerende hoof in die Wes-Kaap, Oscar Borchards, sê hulle is van plan om die prestasie oor ‘n lang tydperk te verseker. Volgens Borchards streef hulle na volgehoue verbetering met die opleiding van operateurs van hystoerusting vir nuwe bokkrane om die beskikbaarheid van die vloot te verbeter en verligting te bied met vraag tydens spitstye.
# Olimpiese Spele: Britse toeskouers het reeds meer as ‘n half-miljoen kaartjies gekoop vir vanjaar se Spele in Parys – tweede meeste na die gasheerland, Frankryk. Die byeenkoms vind plaas van die 26ste Julie tot die 11de Augustus. Die uitvoerende hoof van Parys 2024, Etiene Thobois, sê hulle weet nie of daar groot verwagtinge is van Span Groot Brittanje nie, maar is baie opgewonde om hulle bure van oorkant die Engelse Kanaal te verwelkom. Groot Brittanje het vierde op die medaljeleer geëindig op die vorige Spele in Japan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-672-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-43-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-19-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Oos-Kaap het die bekendstelling van die Maatskaplike-noodverligting-skooldrag-program aangekondig. Dit het ten doel om skooldrag te verskaf aan kinders uit ekonomies benadeelde agtergronde, wat onder die armoedegrens val. Die departemente het tot vyf-duisend-rand per leerder bewillig vir die aankoop van uniforms. Maatskaplike Ontwikkeling beplan ook om in die huidige boekjaar 35-miljoen-rand aan sanitêre waardigheidspakkies te bestee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….