Nuus 18:00
BULLETIN 14 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n EMPD-woordvoerder is aangesê om terug te staan in die ondersoek na die CAT VIP-bloulig-sage
# Die ouditeur-generaal reik ‘n eerste skuldsertifikaat ooit uit, wat ‘n munisipale bestuurder dwing om 4,6-miljoen-rand terug te betaal
# En, padsluitings duur voort terwyl Kaapse Wynland-brandweerdienste steeds veg teen brande by Montagu
# Die woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie, Kelebogile Thepa, sê sy het opdrag ontvang om terug te tree nadat sy die stadsbestuurder se kantoor versoek het om ‘n gesamentlike reaksie op medianavrae oor die CAT VIP-bloulig-sage uit te reik. Thepa het voor die Madlanga-kommissie getuig haar voorstel was daarop gemik om teenstrydige verklarings te vermy en tegniese akkuraatheid te verseker. Sy voeg by dat die stadsbestuurder, Imogen Mashazi, se ingryping baie min gedoen het om die storm te bedaar, en verwys na openbare verwarring oor bewerings oor eienaarskap van EMPD-voertuie:
# Die munisipale bestuurder van die Ngaka Modiri Molema-distrik in Noordwes, Allan Losaba, het die eerste Suid-Afrikaanse openbare ampsdraer geword wat persoonlik aanspreeklik gehou word vir finansiële verliese wat deur die Ouditeur-generaal geïdentifiseer is. Hy het ‘n skuldsertifikaat van meer as 4,6-miljoen-rand ontvang weens die wanbestuur van ‘n watertenk-vervoertender wat gelei het tot opgeblase eise en onreëlmatige besteding. Ouditeur-generaal Tsakane Maluleke sê Losaba het sedert 2019 herhaaldelike regstellings-opdragte geïgnoreer:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit veg steeds teen verskeie brande, insluitend ‘n groot strook bo die Guano-grotte buite Montagu. Die munisipale woordvoerder, Jo Anne Otto, sê sterk winde het die brand oor die R62 gedryf en geboue word bedreig. Spanne van die Kaapse Wynland, Langeberg Munisipaliteit, CapeNature en ander vennote veg teen die vlamme om eiendomme te beskerm, met helikopters wat ontplooi is. Swaar rook bedek die gebied, en die R62 bly gesluit:
# Rusland het vanoggend ‘n reusehommeltuig- en missielaanval op Kiëf uitgevoer waarin vier mense dood en tientalle beseer is by energie-aanlegte, woonstelgeboue en infrastruktuur. President Volodymyr Zelensky sê Russiese magte het 430 hommeltuie en 18 missiele afgevuur, wat dit een van die ergste aanvalle tot dusver op die hoofstad maak. Die Lugmag sê die meeste van die tuie is afgeskiet, maar vallende brokstukke en brande het woonstelgeboue, ‘n skool, ‘n mediese inrigting en administratiewe geboue beskadig in nege distrikte van die stad met sy drie-miljoen-inwoners.
# Rugby: Engeland se kaptein, Maro Itoje, glo hulle kan die All Blacks môre op Twickenham die eerste keer klop sedert die halfeindstryd van 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan. Engeland het nege agtereenvolgende oorwinnings op sy kerfstok, maar het sy vier vorige toetse teen Nieu-Seeland verloor. Die geskiedenis is ook teen die gashere, wat sedert 1905 slegs agt van die 46 toetse teen die Kiwi’s kon wen. Itoje, wat ses jaar gelede deel van die wenspan was, sê Engeland glo in wat hulle doen en hoe hulle dit doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-44-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….