Nuus 18:00
BULLETIN 23 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou rentekoerse onveranderd op sewe-persent te midde van wêreldwye onsekerheid
# Kgalema Motlanthe herhaal die oproep vir Afrika-eenheid om migrasie te hanteer
# En, stygende temperature beïnvloed nou selfs woestynkamele
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd gehou op sewe-persent, in die lig van voortdurende inflasierisiko’s en wêreldwye onsekerheid oor die konflik in die Midde-Ooste. Vier lede van die komitee was ten gunste daarvan om die koers onveranderd te laat, terwyl twee ‘n verhoging van 25-basispunte verkies het. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê inflasie bly steeds hoër as die bank se drie-persent-teiken. Hy sê ekonomiese groei sal na verwagting in die komende maande verlangsaam weens swakker verbruikers- en sakevertroue.
# Oudpresident Kgalema Motlanthe sê Afrikalande moet ekonomiese samewerking versterk om migrasie-uitdagings reg oor die vasteland te hanteer. Hy het op die Kgalema Motlanthe-stigting se winterseminaar in Johannesburg gesê migrasie is nie ‘n nuwe verskynsel nie, maar dis kommerwekkend hoe immigrasie tans behartig word. Motlanthe beklemtoon Suid-Afrika se ekonomie is nou verbind met die res van Afrika, en vra samewerkende oplossings wat streeksgroei bevorder:
# Thungela Resources sê kunsmatige intelligensie verbeter doeltreffendheid in steenkoolmynbou sonder om werkers te vervang. Tydens die Steenkool- en Energie-oorgangsdag het uitvoerende hoof, Moses Madondo, kommer uitgespreek dat KI tot wydverspreide werkverliese sou lei en gesê tegnologiese vooruitgang het histories meer werk deur groeiende nywerhede geskep. Madondo sê KI help om die lewensduur van laer-gehalte mynboubedrywighede te verleng. Hy het ook Thungela se verbintenis tot steenkool herbevestig terwyl hy verantwoordelike ontkoling en selektiewe beleggings nastreef wat ‘n gasprojek in Lephalale insluit.000
# Kamele word die skepe van die woestyn genoem, maar selfs hierdie geharde diere word nie gespaar van die gevolge van stygende temperature in Afrika nie. Die Afar-streek in noordoos-Ethiopië is een van die warmste en droogste plekke op aarde. waar nomade dikwels kameel-karavane lei, wat sout deur die woestyn vervoer. ‘n Kameeloppasser van Semera in die Afar-streek, Ali Umer, het aan die BBC gesê hy kan sien sy kamele ly weens uiterste hitte. Hulle vorm blase aan hul pote en die hitte skroei hul velle.
# Rugby: Die nuwe afrigter van die Wallabies, Les Kiss, het Harry Wilson as kaptein behou in sy eerste span na hy dié week by Joe Schmidt oorgeneem het. Queensland Reds se senter, Isaac Henry, is die enigste nuweling in die groep vir vroeg volgende maand se twee wegwedstryde teen Japan. Kiss het die veteraan James Slipper weggelaat, wat onlangs uit uittrede teruggekom het toe Schmidt ‘n krisis met stutte gehad het. Die 37-jarige kry glo ruskans nadat hy in al drie Nasieskampioenskapstoetse teen Ierland, Frankryk en Italië gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-5-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….