Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pringlebaai se inwoners word ontruim weens ‘n verwoede brand
# NSFAS sê hy maak vordering met sy afsluitingsprojek
# En, krieket: Australië beklink die T20-reeks teen die Protea-vroue
# Die Overberg Munisipaliteit het as voorsorgmaatreël inwoners van die klein kusdorpie, Pringlebaai in die Wes-Kaap, gelas om weens veiligheidsoorwegings te ontruim as gevolg van onbeteuelde brande in die gebied. Die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, sê inwoners is na die stadsaal op Kleinmond verskuif aangesien die brand nader beweeg aan woonhuise. Polisiereservis Axel Maier sê brandbestryders werk onverpoos om die brande te bedwing, wat deur sterk wind aangeblaas word:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het aansienlike vordering aangekondig met sy deurlopende afsluitingsprojek, wat aandag sal gee aan studente-befondsingsuitdagings by 50 TVET-kolleges en 26 universiteite. Suksesvolle rekonsiliasies vir die akademiese jare 2017 tot ’22 is bereik, wat samewerkingspogings tussen NSFAS en opvoedkundige instellings toon. Die woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê NSFAS het deur konsepooreenkomste sowat 600-miljoen-rand teruggekry, en sommige instellings het geteken, wat positiewe momentum in die herstelproses aandui. Mnisi voeg by 1,7-miljard-rand is aan universiteite uitbetaal om die uitstaande betalings vir verlede jaar te hanteer.
# ‘n Politieke ontleder, Bheki Mngomezulu, sê die ANC het geen ander keuse gehad as om sy voormalige president, Jacob Zuma, te skors nie. Mngomezulu meen die besluit is geneem om die party se integriteit te beskerm nadat Zuma verklaar het hy sal nie vir die ANC stem nie. Mngomezulu beklemtoon die beduidende uitwerking van die ANC se stap, veral omdat die Umkhonto we Sizwe-party steun ontvang in provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng:
# Krieket: Australië se vrouespan het die reeks van drie T20s teen die Proteas beklink deur die beslissende wedstryd in Hobart te wen. Suid-Afrika het 162 vir sewe behaal, met Marizanne Kapp se 75 die hoogste telling. Suné Luus het die rekord vir die meeste nulletjies tot nege verbeter voor sy uitgeloop is. Die gasvroue het die teiken bereik met vyf paaltjies plat en vier balle oor, met die aanvangskolwer Beth Mooney wat 82 aangeteken het. Kapp sê ‘n paar foute het hulle die wedstryd – en die reeks – gekos:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-326-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-44-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-69-sent per vat.
# Ten slotte: Een van lugvaart se grootste raaisels is dalk opgelos – die verdwyning van Amelia Earhart bykans 87 jaar gelede. Die Amerikaanse pionier was die eerste vrou wat ‘n solovlug oor die Atlantiese Oseaan uitgevoer het, maar haar vliegtuig het gedurende ‘n vlug rondom die wêreld in 1937 oor die Stille Oseaan verdwyn. Sy is twee jaar later dood verklaar. ‘n Voormalige vlieënier van die Amerikaanse Lugmag en uitvoerende hoof van Deep Sea Vision, Tony Romeo, glo sy span het op die seebodem tussen Australië en Hawaii sonarbeelde vasgevang van iets wat soos ʼn vliegtuig lyk en wat hy glo is moontlik die wrak van Earhart se Lockheed10-E Electra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….