Nuus 18:00
BULLETIN 13 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie teiken 6,7-miljard-rand besparings deur sy Geteikende en Verantwoordelike Besparingsinisiatief
# Die Kabinet verwelkom die inwyding van Biovac se entstof-laboratorium
# En, brandbestryders beveg ‘n brand op die Matroosberg in De Doorns wat deur weerlig begin is
# Die Nasionale Tesourie het begin met die kwantifisering van besparings, uit sy Geteikende en Verantwoordelike Besparingsplan wat lae-prioriteitprogramme en spookwerkers vir verwydering identifiseer. Besparings van 6,7-miljard-rand word in die 2026-begrotingsraamwerk voorsien, insluitend drie-miljard-rand uit bedrog rondom maatskaplike toelaes. Die direkteur-generaal van die Tesourie, Duncan Pieterse, sê die plan beweeg weg van algemene begrotingsbesnoeiings en fokus op doeltreffendheid, verantwoordbaarheid en verbeterde dienslewering vir departemente en provinsies.
# Die kabinet verwelkom die inwyding van Suid-Afrika se eerste laboratorium vir plaaslike produkontwikkeling in Kaapstad en beskryf dit as ‘n groot stap in die rigting van volledige entstof-vermoë. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Biovac se hipermoderne aanleg, wat toegerus is met gevorderde tegnologie, sal plaaslike vernuwing aanspoor, Afrika se vernaamste siektes aanpak en tot 700 werksgeleenthede skep:
# Die Brandweerdiens van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brandbestryding duur voort in die Montagu-, Ashton- en De Doorns-gebiede. Die brand in die Cogmanskloofberge bokant Zolani is nie geblus nie, terwyl ‘n weerligstraal ‘n brand op die Matroosberg in De Doorns veroorsaak het. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto:
# Die opposisieleier van Zimbabwe, Job Sikhala is borgtog van tienduisend rand in die Pretoriase Landdroshof toegestaan. Die voormalige parlementslid is saam met sy bejaarde oom, Alexander Thema, in hegtenis geneem oor beweerde besit van plofstof. Intussen ontken die Nasionale Demokratiese Werkgroep dat die plofstof aan hom behoort het en noem die inhegtenisneming vermeende vuilspel. Die saak is uitgestel tot 3 Februarie 2026.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het verskeie rotasieveranderings aan die Suid-Afrikaanse onder-19-akademiegroep aangebring vir môreaand se kragmeting met Ierland in Cork. Foote probeer om al die spelers speeltyd te gee, en het vier veranderings aangebring aan die beginspan, vyf aan die agterlyn en nog ses op die bank. Kaptein Riley Norton is van sy gereelde posisie op slot na steelkantflank verskuif, met JD Hattingh wat van die bank skuif na slot in die opdrafspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-191-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-224-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….