Nuus 18:00
BULLETIN 10 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting verwerp Donald Trump se bewerings van Afrikaner-volksmoord in Suid-Afrika
# Die Kaapstad-lughawe verwelkom ‘n rekord een-miljoen passasiers in Oktober
# En, ‘n tragedie na ‘n afknouery lei tot die opskorting van eksamens by El-Shaddai-skool
# Die FW de Klerk-stigting het bewerings deur die president van Amerika, Donald Trump en sy minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, verwerp dat Afrikaners in Suid-Afrika vervolg word. Die stigting sê hierdie bewerings van moorde en onwettige grondbesettings is vals. Hulle waarsku dat die verspreiding van sulke waninligting Suid-Afrika se reputasie en internasionale betrekkinge kan beskadig. Christo van der Rheede van die stigting doen ‘n beroep op eenheid voor die G20-beraad in Johannesburg.
# Die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika sê Kaapstad Internasionale Lughawe het een-miljoen passasiers in Oktober oorskry, ‘n mylpaal wat gewoonlik net in Desember gesien word. Die prestasie dui op ‘n sterk begin van die feestyd-reisseisoen en weerspieël groeiende vertroue in die toerisme- en lugvaartsektore. ACSA-woordvoerder Ofentse Dijoe sê hulle sal voortgaan om met vennote saam te werk teneinde veilige en gladde reise gedurende die piekseisoen te verseker:
# Die El-Shaddai Christelike Skool in Sharpeville het eksamens vir graad R tot elf opgeskort nadat ‘n graad 10-leerder na bewering sy eie lewe geneem het na afknouery. Onderwyswoordvoerder, Steve Mabona sê graad 12-eksamens gaan voort soos beplan. Mabona sê die Gautengse Departement het spanne gestuur om die gesin, leerders en personeel te ondersteun. Hy sê ‘n hersiene eksamenrooster sal vrygestel word sodra die skool normale bedrywighede hervat:
# Die voormalige Franse president Nicolas Sarkozy gaan uit die tronk vrygelaat en onder geregtelike toesig geplaas word. ‘n Appèlhof in Parys het besluit die 70-jarige sal nie Frankryk kan verlaat nie, met ‘n appèlverhoor wat na verwagting later sal plaasvind. Sarkozy, wat Frankryk van 2007 tot 2012 gelei het, is in Oktober tronk toe gestuur nadat hy skuldig bevind is aan sameswering om veldtogfondse uit Libië in te samel. Sarkozy hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie en beweer die saak is polities gemotiveerd. Sy vrylating volg ná berigte dat hy doodsdreigemente in die tronk ontvang het.
#Krieket: Indië se oorwinning in die Eendagwêreldbeker vir Vroue het gelei tot ‘n toename in belangstelling in volgende jaar se T20-wêreldbeker in Engeland. Daar was ‘n toename van 171-persent in kaartjieverkope sedert die vorige week, en 265-persent in verkope vir Indië se wedstryde, veral vir die ontmoeting teen die naaswenners, die Proteas, en teen Australië. Die toernooi vind van 12 Junie tot 5 Julie plaas, en wedstryde sal gespeel word by Lord’s, Old Trafford, Edgbaston, Headingly, die Oval, in Bristol en in Southampton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-707-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-85-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….