Nuus 18:00
BULLETIN 6 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society verwelkom die hofbeslissing in die saak teen die blouligmafia
# Solidariteit versoek G20 om SA aanspreeklik te hou vir die rassewette
# En, groot mylpale vir Siya Kolisi en Rassie Erasmus in Saterdag se toets teen Frankryk
# Action Society sê vandag se uitspraak van die Randburg-streekhof in die saak teen adjunk-president Paul Mashatile se agt beamptes vir die beskerming van belangrike persone, is ‘n belangrike stap in die rigting van verantwoordbaarheid in wetstoepassing. Slegs een aanklag teen dié sogenaamde blouligmafia is laat vaar. Hulle word daarvan beskuldig word dat hulle motoriste op die N1-snelweg in Johannesburg in Julie 2023 aangeval het. Juanita du Preez van die organisasie vra dat die beamptes geskors word terwyl die saak voortduur:
# Solidariteit se Navorsingsinstituut het G20-lidlande versoek om tydens die komende beraad dié maand aan Suid-Afrika se rassebeleid aandag te skenk. Die instituut het ‘n versoekskrif aan G20-ambassades in Pretoria oorhandig waarin hy lande aanmoedig om vrae te vra oor Suid-Afrika se nakoming van internasionale teen-diskriminasiekonvensies. Solidariteit se woordvoerder, Connie Mulder, sê meer as 140 rasgebaseerde wette ondermyn gelykheid en ekonomiese samewerking. Hy noem dit hindernisse anders as tariewe in die pad van internasionale beleggings:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se Branddienste bevestig dat spanne na verskeie brande in die distrik ontplooi is. Elf brandvoertuie en spanne brandbestryders van die Munisipaliteit ins op doe toneel en word deur voertuie van die Drakenstein Munisipaliteit ondersteun. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê uiters moeilike omstandighede heers en brandbestryding sal waarskynlik deur die nag voortgaan:
# Nagenoeg 37-duisend Amerikaanse soldate in Duitsland sal moontlik nié hul November-soldy ontvang nie en het inligting oor die voedselbank ontvang. Dit kom te midde van die Amerikaanse regering se stilstand van 37 dae wat die langste ooit is. Die weermag het ook riglyne op sy webwerf geplaas vir soldate in Duitsland om nood-maatskaplike voordele en lenings of hulp van voedselhulporganisasies te bekom. Amerika se minister van vervoer, Sean Duffy, het vroeër ‘n 10 persent vermindering van vlugte by 40 groot Amerikaanse lughawens aangekondig. Lugdienste sê minstens 3,2-miljoen reisigers is reeds geraak.
# Rugby: Saterdagaand se toets tussen die Springbokke en Frankryk in Parys bring groot mylpale vir kaptein Siya Kolisi en hoofafrigter Rassie Erasmus. Kolisi sal Suid-Afrika in sy 100ste toets aanvoer en word die negende Sprinbok om die mylpaal te bereik, terwyl Erasmus vir die 50ste keer as afrigter in beheer sal wees. Daar is ses veranderinge aan die span wat Japan verlede naweek met 61-7 geklop het. Heelagter Damian Willemse keer terug na ‘n besering. Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse is die vleuels met Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-812-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-9-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….