Nuus 18:00
BULLETIN 3 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Critical Minerals Africa Group sê Afrika se groei berus op industrialisering
# Motoriste betaal minder vir brandstof in November met petrol- en dieselpryse wat daal
# En, Donald Trump sê hy oorweeg nie om langafstandmissiele aan Oekraïne te verskaf nie
# Die uitvoerende hoof van die Critical Minerals Africa Group, Veronica Bolton Smith, sê Afrika kan nie ekonomiese groei bereik sonder industrialisering nie. Smith het teenoor SABC News die behoefte beklemtoon aan volledige geo-ruimtelike kartering van minerale hulpbronne, betroubare kragvoorsiening en sterk infrastruktuur. Sy sê Afrika moet eienaarskap van sy data te neem, in hawens, paaie en waterstelsels belê, en intra-Afrika-handel bevorder ten einde vervaardiging, werkskepping en die toegevoegde waarde van sy kritieke minerale te verbeter:
# Motoriste sal vanaf Woensdag minder vir brandstof betaal. Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne sê 93-oktaan en 95-oktaan petrol sal met 51-sent per liter daal. Dieselpryse sal ook met 19- tot 21-sent per liter daal. Vloeibare petroleumgas sal met 61-sent per kilogram daal, terwyl paraffien met een-sent per liter daal. Die departement skryf die verlagings toe aan laer internasionale oliepryse en ‘n sterker rand.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy oorweeg dit nie om binnekort Tomahawks aan Oekraïne te verskaf nie. Dit volg op berigte dat Oekraïne die afgelope paar weke hard gewerk het om Washington te oortuig om die langafstandmissiele aan hom te lewer. Volgens CNN het die Pentagon die groenlig gegee vir Amerika om die wapens aan Kiëf te voorsien, maar Trump het gisteraand skynbaar die besluit omgekeer en aan die media gesê hy oorweeg dit nie in hierdie stadium nie.
# Rugby: Die Springbokke moet Frankryk hierdie naweek in Parys klop om te verhoed dat die All Blacks oorneem as nommer een op die wêreldranglys. Nieu-Seeland het Suid-Afrika se voorsprong vernou na hul oortuigende oorwinning oor die derde-geplaaste Ierland, terwyl die Bokke se groot oorwinning oor Japan, wat 13de is, hulle geen ranglyspunte besorg het nie. Frankryk is nou vyfde maar sal na die derde plek spring as hulle die wêreldkampioen op die Stade de France kan klop. Die All Blacks speel Saterdag teen Skotland, wat tans agtste is.
# Die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hy beywer hom dwarsdeur die jaar vir die regte en welstand van persone met gestremdhede. Bewustheidsmaand vir die Regte van Gestremdes duur van vandag tot 3 Desember. LUR Jaco Londt sê sy departement sal pogings verskerp om inwoners aan te moedig om ‘n meer inklusiewe, toeganklike samelewing vir almal te bou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-036-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-16-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….