Nuus 18:00
BULLETIN 22 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Standard Bank verwag môre ‘n moontlike rentekoersverhoging
# Die Hooggeregshof verwerp die gebruik van foto’s in die Vusimuzi “Cat” Matlala-verhoor
# En, tafeltennis: Suid-Afrika se span gereed om die vlag hoog te laat wapper op die Statebondkampioenskap in Indië
# Standard Bank verwag die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee gaan môre ‘n verdere rentekoersverhoging oorweeg. Inflasie het in Junie tot vyf-persent gestyg vanaf 4,5-persent in Mei, hoofsaaklik aangedryf deur hoër brandstofpryse en openbare vervoerkoste. Dit beteken inflasie bly ver bo die Reserwebank se teiken van drie-persent. Elna Moolman van die bank sê enige verdere verhoging sal waarskynlik die einde van die huidige rentekoersverhogingsiklus aandui:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het opdrag gegee dat die verdedigingsadvokaat Nardus Grove, wat beskuldigde nommer twee, Tiego Floyd Mabusela, verteenwoordig in die Vusimuzi Matlala-saak, nie stilfoto’s mag gebruik in die staatsgetuie Bethwell Cele se kruisondervraging nie. Die voormalige veiligheidswag getuig in die saak oor die beweerde poging tot moord op die taxibaas Joe Sibanyoni tydens ‘n skietvoorval in 2022. Regter Cassim Moosa het die Staat se beswaar gehandhaaf:
# Die Verenging van Staatsamptenare verwelkom die inhegtenisneming van verskeie verdagtes, insluitend senior wetstoepassingsbeamptes, in verband met ‘n rooftog van edelstene ter waarde van 15-miljoen-rand. Claude Naicker van die vakbond sê die deurbraak beklemtoon die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se rol in die bekamping van korrupsie. Naicker het gevra grondwetlike onafhanklikheid vir OPOD en het Nasionale Tesourie om bykomende befondsing gevra om die ondersoek- en toesigvermoëns van die direktoraat te versterk.
# Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming het Amerika gevra om Ebola-verwante reisbeperkings na Uganda op te hef. Die organisasie se direkteur-generaal, Jean Kaseya, het tydens ‘n konferensie in Accra gesê hy het aan die Amerikaanse minister van Gesondheid, Robert F. Kennedy Junior gesê daar is geen rede om die maatreëls te handhaaf nie. Uganda het die afgelope maand geen nuwe Ebola-gevalle aangemeld nie, en die laaste pasiënt is op 16 Julie uit die hospitaal ontslaan. Die Amerikaanse beperkings geld ook vir reisigers uit die Demokratiese Republiek die Kongo.
# Tafeltennis: Die Suid-Afrikaanse Tafeltennisraad het die nasionale span aangekondig wat gekies is om die land te verteenwoordig op volgende week se Statebondkampioenskap in Nieu-Delhi, Indië. Woordvoerder Priya Ranchod sê die glans-kampioenskap bring die beste Statebondspelers byeen en verskaf ‘n wêreldklas-platform vir elite-kompetisie. Sy sê Suid-Afrika het ‘n gebalanseerde span wat die geesdrif van ontluikende jeugtalent met die ervaring van gesoute spelers kombineer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-642-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-150-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….