Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof verwerp Dipuo Peters se aansoek om haar skorsing om te keer
# Die Johannesburgse raad se hoofsweep is gewond in ‘n skietvoorval
# En, sokker: Bafana wil ‘n opskudding op die Afrikabeker-toernooi veroorsaak teen die gerekende Marokko
# Die ANC-parlementslid, Dipuo Peters, kan van môre tot 28 Maart uit parlementêre bedrywighede geskors word nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof haar aansoek van die hand gewys het om die straf te staak. Die hof het die Parlement se besluit om Peters te skors, bekragtig, met verwysing na staatskaping tydens haar ampstermyn as minister van Vervoer. Die aantygings sluit in die versuim om ‘n uitvoerende hoof vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika aan te stel, en die goedkeuring van die gebruik van PRASA-busse vir ANC-geleenthede. Peters se aansoek is met koste van die hand gewys.
# Die hoofsweep van die Stad Johannesburg, Sithembiso Zungu, is vroeër vandag gewond in ‘n skietvoorval in die suide van die stad. Woordvoerder Vusi Gumbi sê Zungu was ten tyde van die voorval besig met amptelike raadsake. Gumbi bevestig Zungu het na die voorval mediese behandeling ontvang:
# Die Hooggeregshof in Noordwes het die begin van die moordverhoor van die ANC-parlementslid Sibusiso Kula vir 13 Mei vasgestel. Hy word aangekla van die moord op sy vrou. Jennifer Mohlomi se liggaam is in November 2022 met ‘n steekwond aangetref. Die staat en die verdediging is albei gereed. Kula is tans uit op borgtog van 50-duisend-rand met streng voorwaardes. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Henry Mamothame, sê die hof het Kula se aansoek verwerp om die saak van die rol te skrap:
# Iran het vandag vier mans tereggestel wat skuldig bevind is aan spioenasie vir Israel. Mohammad Faramarzi, Mohsen Mazloum, Wafa Azarbar en Pejman Fatehi is skuldig bevind aan betrokkenheid by ‘n plan om ‘n Iranse verdedigingsterrein in Isfahan te saboteer. Hulle is ook beskuldig dat hulle saam met Israel se intelligensiediens, Mossad, gewerk het. Hulle is in Julie 2022 aangekeer en in September verlede jaar ter dood veroordeel. Iran beweer die mans het opleiding ondergaan in Afrika-lande waar Mossad-beamptes teenwoordig was. Spanning tussen Iran en Israel het toegeneem, met beskuldigings van spioenasie en skadu-oorloë wat voortduur.
# Sokker: Bafana Bafana speel môreaand teen Marokko in die laaste wedstryd van die ronde van 16 by die Afrikabeker-toernooi. Albei die lande het die toernooi nog net een keer gewen – Marokko in 1976, terwyl Suid-Afrika koning gekraai het in 1996. Marokko is die topgekeurde span in Afrika wat Bafana se paadjie moeilik maak. Maar afrigter Hugo Broos glo sy span kan vir ʼn opskudding sorg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-en-74-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….