Nuus 18:00
BULLETIN 30 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê misdaadintelligensie-mislukkings gaan oor leierskap-mislukkings en nie ‘n gebrek aan hulpbronne nie
# Krieket: Indië jaag ‘n reuse-wenteiken van 339 in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Australië
# En ‘n Oxford-studie waarsku Afrika se natuurlewe het ‘n derde van sy natuurlike uitwerking verloor
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die uitdagings in Suid-Afrika se misdaadintelligensiestrukture is nie te wyte aan ‘n gebrek aan hulpbronne nie, maar die mislukking van leierskap, politieke wil en verantwoordbaarheid. Mashatile het mondelings geantwoord op vrae in die Nasionale Vergadering en verwys na die Madlanga-kommissie waar onthul is sommige beamptes het misdaadsindikate gehelp. Hy sê die regering sal vinnig optree om die leierskap reg te ruk en polisie-eenhede op te ruim ten einde misdaad doeltreffend te beveg:
# Die jongste syfers deur Statistieke Suid-Afrika toon ‘n toename in ondernemings wat misluk. Totale likwidasies het in September met byna 24-persent gestyg vergeleke met verlede jaar. Maatskappylikwidasies het met 16 gevalle toegeneem, en beslote korporasies met 12. Onica Mushwana van Stats SA sê die eerste nege maande van die jaar het ‘n 3,8-persent toename getoon, wat die stygende finansiële druk op Suid-Afrikaanse ondernemings aandui:
# Die minister in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, het Afrika-nasies aangespoor om te belê en aandeelhouers in befondsingsinstellings te word om spogprojekte te versnel. Ramokgopa het op die derde Luanda-befondsingsberaad in Angola met SABC News gepraat en vra versterkte infrastruktuur in die vervoer-, energie-, digitale en watersektor. Sy sê die beraad het ten doel om die vasteland se jaarlikse befondsingsgaping van 1,7-duisend-miljard-rand te oorbrug:
# Krieket: Die mede-gasvrou Indië jaag ‘n reuse-wenteiken van 339 in hulle Wêreldbeker-halfeindstryd teen die verdedigende kampioen, Australië, in Mumbai. Die jong kolwer Phoebe Litchfield het 119 lopies aangeteken van slegs 113 balle, Ellyse Perry het 77 bygedra en Ashleigh Gardner 63. Shree Charani en Deepti Sharma het albei twee paaltjies geneem, terwyl drie kolwers uitgeloop is. Vandag se wenner speel Sondag in die eindstryd teen Suid-Afrika nadat die Proteas Engeland gister verpletter het in die eerste halfeindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-857-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-twee-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-83-sent per vat.
# En laastens: ‘n Nuwe Oxford-studie in Nature het aan die lig gebring Afrika se ekostelsels werk teen minder as twee-derdes van hul oorspronklike energie, wat bioverskeidenheid en voortbestaan bedreig. Die hoofskrywer van Oxford se Omgewingsveranderingsinstituut, Ty Loft, sê die uitwerking van natuurlewe wat voedingstof-siklusse en saadverspreiding aanvoor, het sedert voor-koloniale tye afgeneem. Loft waarsku die verlies van groot spesies soos olifante en renosters verswak ekostelsel-funksies oor die hele vasteland drasties. Hy het beklemtoon groot spesies se rolle kan nie deur kleiner spesies of vee vervang word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….